Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Wanderers in Johannesburg sal op 21 November volgende jaar, soos in 2003, die eindstryd van die eendag-Wêreldbekertoernooi aanbied. Indië en die verdedigende kampioen, Australië, speel op 7 Oktober in die openingswedstryd op Nuweland in Kaapstad, waar die eerste halfeindstryd ook sal plaasvind, en die tweede in Centurion. Die toernooi vind plaas in twaalf plekke in Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië. In Suid-Afrika sal wedstryde ook gespeel word in die Paarl, Bloemfontein, Durban, KuGompo City en Gqeberha. Ander gasheerstede en dorpe sluit in Harare, Bulawayo en Windhoek.
Suid-Afrika speel sy groepswedstryde teen Engeland, Bangladesj, Sri Lanka, Nieu-Seeland en ‘n kwalifiseerder. Die verdedigende kampioen, Australië, is in Groep A saam met Indië, Pakistan, Afghanistan, die mede-gasheerland Zimbabwe en ʼn kwalifiseerder. Die Proteas begin hul veldtog op 9 Oktober teen Nieu-Seeland op Nuweland in Kaapstad. Die top-drie spanne in elke groep beweeg aan na die Super 7-fase met die beste vierde-lek-span in die twee groepe wat die sewende plek inneem.
# Rugby: Die Haaie het met die terugkeer van Springbok-spelers ʼn hupstoot gekry vir môre se Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met die heersende kampioen, Leinster, in Durban. André Esterhuizen voer die span aan, en Thomas du Toit en Edwill van der Merwe keer terug na die beginspan. Ox Nché, Eben Etzebeth en Ethan Hooker is op die bank. Die Leeus spog met die terugkeer van die Springbokke, Morné van den Berg en Quan Horn, terwyl Ethan Adams die buitesenter, Henco van Wyk, vervang. Die Leeus en Ospreys pak mekaar môre op Ellispark.
Intussen sal die Springbok-kaptein Siya Kolisi vanaand die eerste keer in vyf jaar vir die Stormers uitdraf wanneer hulle in Skotland teen Edinburgh te staan kom. Hy sal as oopkantflank begin, met Louw Nel wat na die steelkant skuif, terwyl Riley Norton in die tweede ry speel. Die enigste ander verandering aan die voorspelersgroep is Ntuthuko Mchunu in die voorry. Stefan Ungerer en Yaqeen Ahmed vorm die skakelpaar. Wandile Mlaba is die nuwe gesig op die bank en sal as losvoorspeler dekking bied.
# En tennis: Die Vroue-tennisvereniging sê die prysgeld van alle gesamentlike Een-duisend toernooie sal vanaf 2027 dieselfde vir vroue- en manspelers wees. Dit bring die Kanadese Ope, Cincinnati Ope en Italiaanse Ope op dieselfde vlak as ander gesamentlike Een-duisend-toernooie. Die WTA se voorsitter, Valerie Camillo, sê die organisasie verminder ook vanaf volgende jaar die aantal toernooie waaraan die voorste spelers verplig is om deel te neem, ná kritiek oor die oorvol skedule:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….