Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met fietsry: Die 46ste Kaapstadse fietstoer vind die naweek plaas en motoriste word gewaarsku dat talle paaie gesluit sal wees. Die volgende strate in die middestad word geraak: Darling-, Strand-, Adderley- en Riebeek-straat. In Groenpunt word Helen Suzman-boulevard van Strandstraat tot by die verkeersirkel ook geraak.
# Rugby: Skotland se afrigter, Gregor Townsend, het sy span aangemoedig om hulle spelpeil tot nuwe hoogtes te lig in hulle poging om die eerste keer in die Sesnasies-era in die boonste twee posisies te eindig. Townsend se span is tweede op die punteleer na Ierland, een punt voor Engeland en drie voor Frankryk. Hulle het weg-wedstryde oor teen Italië en die Grand-Slam-aanspraakmaker, Ierland. Selfs al sou Skotland môre in Italië wen, sal Ierland agtereenvolgende titels beklink as hulle later die dag met ‘n bonuspunt wen teen Engeland op Twickenham.
# Rugby: Fidji se beheerliggaam het die hoofafrigter van sy sewesspan afgedank slegs vier maande voor die begin van die Olimpiese Spele in Parys. Ben Gollings is deur Osea Kolinisau vervang, wat die kaptein was toe Fidji goud verower het op 2016 se Olimpiese Spele in Rio. Fidji het ook die kompetisie op die Spele in Tokio gewen. Die unie sê Gollings voldoen nie aan die gewenste standaarde nie. Fidji is nou derde op die punteleer van die wêreldreeks na hulle dié seisoen nog nie een toernooi kon wen nie.
# Tennis: Die tweemalige Grand Slam-kampioen, Simona Halep, het bevestig sy gaan deelneem aan die Miami Ope wat op die 17de begin. Die 32-jarige Roemeen het as promotorskeuse by die toernooi in Florida ingeskryf. Halep se terugkeer volg nadat die Hof vir Arbitrasie in Sport haar skorsing van vier jaar weens opkikkers na nege maande verminder het. Die nege maande is reeds verstreke. Die wêreld se gewese nommer een sê sy kan nie wag om na die baan terug te keer en weer mee te ding nie.
# En motorsport: Die hoof van die Red Bull Formule Een-span, Christian Horner, sê dit het tyd geword om ‘n einde te maak aan die omstredenheid wat hom omhul het en op wedrenne te fokus. Die 50-jarige is onlangs van alle skuld onthef na ‘n ondersoek oor ‘n klagte van beweerde onbehoorlike gedrag wat ‘n vroulike kollega teen hom ingedien het. Sy aanklaer is nou met volle betaling geskors. Horner sê dit was ‘n baie moeilike tyd vir hom en sy gesin:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….