Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, krieket: Die tweede en finale toets tussen Nieu-Seeland en Australië wat môre in Christchurch begin, sal die gerespekteerde Suid-Afrikaanse skeidsregter Marais Erasmus se swanesang wees. Hy het onlangs aangekondig hy gaan uittree na ‘n uitstaande loopbaan waartydens hy 80 toetse, 124 eendag-internasionale wedstryde en 61 internasionale T20’s hanteer het. Erasmus het in Februarie 2006 sy debuut gemaak in ‘n T20 tussen die Proteas en Australië op die Wanderers. Hy sê hy sal die voordele en reise mis, maar sien uit na ‘n verveliger lewe.
# Rugby: Die Hurricanes sal sonder hul veelsydige All Blacks-agterspeler, Jordie Barrett, wees vir hul volgende Superrugby-wedstryde teen die Blues, die verdedigende kampioen, die Crusaders, en die Melbourne Rebels. Hy is tot die 22ste van hierdie maand geskors nadat hy verlede naweek met ‘n geelkaart afgestuur is vir ‘n gevaarlike duikslag op Queensland Reds se heelagter, Jordan Petaia. Dit is daarna opgradeer na rooi. Dit was Barrett se 100ste wedstryd vir die Hurricanes, wat hulle 38-33 gewen het. Hy het al 57 toetse vir Nieu-Seeland gespeel.
# Tennis: Die driemalige kampioen, Rafael Nadal, het hom aan die Indian Wells-ope onttrek en sê hy is nie gereed om op die hoogste vlak te speel nie. Die 37-jarige Spanjaard het in Januarie in Brisbane teruggekeer nadat ‘n heupbesering hom byna ‘n jaar lank uit die spel gehou het. Hy sou in die eerste ronde teen die Kanadees Milos Raonic speel en word vervang deur die gelukkige verloorder, Sumit Nagal. Hy is die eerste Indiese mededinger in die hooftrekking van ‘n ATP Meesters-eenduisend-byeenkoms sedert Prajnesh Gunneswaran in Miami in 2019.
# Gholf: Die voormalige wêreld nommer een, Jon Rahm van Spanje, sê die amptelike rangstelsel dien nie meer sy doel nie. Dit volg nadat die Saoedi-ondersteunde LIV Gholfliga amptelik sy aansoek teruggetrek het dat spelers wêreldranglys-punte vir sy toernooie ontvang. LIV is in Oktober verlede jaar akkreditasie geweier, hoofsaaklik omdat sy formaat slegs 54 putjies het en die swakste spelers nie na twee rondes moet onttrek nie. Die tweemalige Major-wenner sê dis duidelik die rangstelsel is nie reg nie:
# En, basketbal: Suid-Afrika is die mede-gasheer van die vierde seisoen van die Basketballiga Afrika, met wedstryde wat Saterdag in die SunBet-arena in Pretoria begin. Die president van die liga, Amadou Gallo Fall, het ‘n verlengde seisoen aangekondig wat oor vier maande strek, met wedstryde wat in Suid-Afrika, Egipte, Senegal en Rwanda gespeel word. Hy sê dit is die eerste seisoen van die liga wat in vier verskillende lande gespeel word, met 12 klubspanne uit Afrika wat in 48 wedstryde meeding:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….