Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Matthew Breetzke se honderdtal het die Proteas gehelp om Australië met 67 lopies te klop in die eerste eendagwedstryd op Kingsmead in Durban. Hy het die Suid-Afrikaner met die meeste lopies in sy eerste 14 eendagwedstryde geword deur 112 lopies van 106 balle te moker. Marco Jansen het 75 bygedra tot die tuisspan se totaal van 297 vir agt. Die linkshandige draaiboulers Keshav Maharaj en Bjorn Fortuin het daarna saam ses paaltjies geneem en Australië vir 230 help uitknikker. Die voorlaaste kragmeting vind Sondag op die Wanderers plaas.
# Rugby: Springbok-hulpafrigter Duane Vermeulen ontken dat hoofafrigter Rassie Erasmus se 13 veranderinge aan die beginspan vir die eenmalige toets teen die Wallabies ‘n gebrek aan respek is. Suid-Afrika speel Sondag se toets in Perth ná ‘n veeleisende reeks van vier wedstryde teen die All Blacks. Australië is sewende op die wêreldranglys, maar onoorwonne onder hul nuwe afrigter, Les Kiss. Vermeulen verwag die Wallabies sal uiters vasberade wees en die Bok-voorspelers uitdaag:
Nog rugbynuus: Die Haaie se hoofafrigter, JP Pietersen, het ‘n opwindende wedstryd-groep van 23 aangewys vir Saterdag se eerste Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Ospreys op Kingspark. Die gewese Junior Springbok, Vusi Moyo, sal die aanval lei op losskakel, saam met skrumskakel Jaden Hendrikse. Die agsteman Nick Hatton is kaptein, en voltooi die losvoorspelers saam met Manu Tshituka en Phepsi Buthelezi. Dis die eerste keer in die toernooi se geskiedenis dat die Haaie hul veldtog op hul tuisveld afskop.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Pitso Mosimane, is vol vertroue dat hulle môre vir Guinee kan klop in hulle eerste Afrikabeker-kwalifiseerder op die Orlando-stadion in Soweto. Die Wes-Afrikaland sal waarskynlik Suid-Afrika se sterkste teenstander wees in Groep D, wat ook Kenia en Eritreë insluit. Mosimane sê hy is deeglik bewus van die bedreiging van Guinee, wat spog met een van die wêreld se gevaarlikste doelskoppers, Serhou Guirassy:
# En swem: Die bekroonde Olimpiese swemmer, Tatjana Smith, het haar terugkeer na die sport gevier deur die 50-meter-borsslag te wen op die Suid-Afrikaanse kortbad-kampioenskap in Pietermaritzburg. Haar tyd was 29,50-sekondes, wat vinniger is as die vereiste om te kwalifiseer vir die wêreld-kortbadkampioenskap in Beijing, China, in Desember. Michael Houlie en Chris Smith het ook vir Beijing gekwalifiseer nadat albei se tye vinniger was as die vereiste vir die mans se 50-meter-borsslag. Duné Coetzee het gekwalifiseer vir die vroue se 400-meter-vryslag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….