Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Stormers se voorry-afrigter, Rito Hlungwani, sê die omvang van die uitdaging en geleentheid om teen Nieu-Seeland te speel, het opofferings vereis wat die spelers bereid was om te maak. Hulle het pas begin voorberei vir die Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen wat einde September afskop. Hlungwani sê in ‘n gewone af-seisoen sou hulle nou eers met die voorseisoense voorbereiding begin, wat meestal op kondisionering fokus:
Nog rugbynuus: Nege Springbok-vroue is ingesluit in ‘n groep van 30 spelers wat in Somerset-Wes, Kaapstad, oefen in die eerste van twee kampe. Die groep is deel van die Springbok-vroue-akademie, waar spelers wat nie by die toetsgroepe betrokke is nie, saam oefen as deel van die breër nasionale groep. Die Springbok-vroue A-groep van 26 spelers sal die 20ste na Brasilië vertrek. Hulle sal die 24ste en die 29ste in Brasilia en Sao Paulo teen hul Brasiliaanse teenstanders te staan kom.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê hulle is deeglik bewus wat op die spel is voor vanaand se wedstryd teen Burkina Faso in die Afrikabekertoernooi vir vroue. Suid-Afrika is onderaan die punteleer in Groep B met slegs een punt na twee wedstryde. Hulle moet Burkina Faso klop en hoop Ivoorkus reken met Tanzanië af sodat hulle die kwarteindronde kan haal. Ellis sê hulle het genoeg ervare spelers om die span oor die hekkie te kry.
Ander sokkernuus: FIFA se president, Gianni Infantino, se mislukte plan om ‘n Wêreldbeker-belang aan private beleggers te verkoop, het hom onder geweldige druk geplaas om sy posisie te behou. Die beheerliggame van Europa en Noord- en Sentraal-Amerika en die Karibiese Eilande, UEFA en Concacaf, se aankondigings dat hulle vertroue in sy leierskap verloor het, is gevolg deur UEFA se oorweging van regstappe. Wallis het sy steun vir Infantino se herverkiesingspoging onttrek, terwyl Engeland na verwagting sal volg. Die volgende presidentsverkiesing is in Maart volgende jaar.
# En tennis: Die derde-gekeurde Amerikaner Taylor Fritz het sy elfde ATP-toertitel beklink toe hy die DC-ope in Washington gewen het. Hy het die Spanjaard Rafael Jodar verslaan om sy eerste titel sedert Junie verlede jaar te buit, en die eerste op ʼn hardebaan sedert Februarie 2024. In die vroue-eindstryd het die 21-jarige Alexandra Eala die eerste Filippyn geword wat ʼn WTA-enkelspeltitel wen toe sy met die topgekeurde Amerikaner Jessica Pegula afgereken het. Eala het nou van 28ste op die wêreldranglys gespring na 20ste ‒ die beste van haar loopbaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….