Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met krieket: Die Protea-draaibouler Keshav Maharaj is boaan die ranglys vir eendag-internasionale boulers. Hy word gevolg deur Wanindu Hasaranga van Sri Lanka en Adil Rashid van Engeland. Indië is die voorste eendagspan al het hy gister teen Australië verloor in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi. Australië is tweede en Suid-Afrika derde. Shubman Gill van Indië is die voorste eendag-kolwer, en die Protea-aanvangskolwer en paaltjiewagter Quinton de Kock derde. Hy het uit internasionale krieket getree nadat Suid-Afrika in die halfeindstryd teen Australië verloor het.
# Vervolgens, motorsport: Mercedes-renjaer Lewis Hamilton glo die aksiebelaaide Las Vegas Grand Prix het kritici verkeerd bewys wat gesê het dis vertoning bo substansie. Die sewemalige wêreldkampioen wat die wedren in die tiende plek begin het, het teruggeveg en sewende geëindig na 50 rondes vol drama. Max Verstappen van Red Bull het die wedren gewen en het met sy 18de oorwinning van die seisoen sy eie rekord verbeter. Hamilton sê hy het die wedren in Vegas geniet, ten spyte van probleme met die motor:
# Gholf is volgende aan die beurt: Nicolai Hojgaard van Denemarke het in ʼn dramatiese laaste ronde 64 behaal om die DP World toerkampioenskapstoernooi in Dubai met twee houe te wen. Die 22-jarige het op 21 onder baansyfer klaargemaak, twee houe voor Viktor Hovland van Noorweë en Matt Wallace en Tommy Fleetwood van Engeland op 19 onder. Die verdedigende kampioen van Spanje, Jon Rahm deel die vyfde plek na ʼn finale ronde van 66 en Rory McIlroy van Noord-Ierland het sy seisoen afgesluit met ʼn 22ste plek na ʼn twee onder 70. Hojgaard sê dit was iets besonders om die titel te wen:
# Ons is nou by tennis: Die wêreld-nommer-een Novak Djokovic het nog ‘n rekord laat spat met ʼn sewende titel by die ATP-jaareindtoernooi. Hy het die tuisgunsteling Jannik Sinner in Turyn, Italië, geklop. Die Serwiër wat in die groep-fase teen die Italianer verloor het, het binne een-uur en 43-minute met 6-3 en 6-3 wraak geneem. Hierdie oorwinning beteken die 36-jarige speler sluit sy jaar af met oorwinnings in drie van die vier Grand Slams en vir die eerste keer sedert 2016 ‘n totaal van sewe titels in een kalenderjaar. Djokovic sê dit was weer eens spesiaal om hierdie toernooi te wen:
# En, ons sluit af met tragiese nuus aan die rugbyfront: Die voormalige Springbok Wêreldbeker-slot Hannes Strydom het in die ouderdom van 58 gesterf. Hy is volgens berigte gister in ‘n ongeluk dood. Strydom het in 21 toetse as slot vir die Springbokke gespeel en was in die beginspan van 1995 se Wêreldbeker-eindstryd teen die All Blacks. Hy het in Augustus 1997 in sy laaste Bok-wedstryd gespeel. Strydom is die vyfde lid van die seëvierende span van 1995 wat sterf, na Ruben Kruger, Chester Williams, Joost van der Westhuizen en James Small.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….