Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Wallabie-flank Carlo Tizzano sê ‘n wedstryd teen die Springbokke is die belangrikste toets, maar hulle is gereed daarvoor. Australië het die nuweling Harry McLaughlin-Phillips ingesluit in die groep vir Sondag se eenmalige toets teen die wêreldkampioen op die Optus-stadion in Perth. Die Bokke het Australië 30-12 geklop tydens hul vorige besoek aan die stad in 2024. Tizzano sê hulle sal beter moet vaar as teen Argentinië vroeër die maand:
Alle spanaankondigings in die Verenigde Rugbykampioenskap sal intussen vir die duur van die seisoen om drie-uur Donderdae, Suid-Afrikaanse tyd, in ‘n wedstrydweek plaasvind. In vorige seisoene is die spanne gewoonlik 24 uur voor afskop aangekondig. Volgens die organiseerders volg die proeflopie op terugvoer van media- en uitsaai-vennote wat vroeër toegang tot nuus oor spanne wou hê, terwyl die spanne self bereid is om by te dra tot ‘n langer aanloop tot wedstryde. Die seisoen skop Vrydagaand af.
# Krieket: Die Proteas se hoofafrigter, Shukri Conrad, sê Kagiso Rabada se beskikbaarheid vir die reeks van drie toetse teen Australië sal afhang van sy vordering met rehabilitasie. Die snelbouler het verlede maand sy been beseer tydens oefening. Hy gaan reeds dié maand se eendagreeks teen Australië misloop. Conrad is vol vertroue dat Rabada gereed sal wees vir die toetsreeks:
# Sokker: FIFA se president, Gianni Infantino, stel ‘n eksterne hersiening voor van die manier waarop die beheerliggaam groot besluite neem. Dit volg na sy mislukte plan om die FIFA Forward Enterprise te stig, waar aandele in die Wêreldbekertoernooi en ander kompetisies aan privaat beleggers verkoop sou word. Infantino het in ʼn brief aan al 211 FIFA-lidverenigings gesê hy is gereed vir hervorming. Hy vra voorstelle oor die rol van die president, asook praktiese maniere om deursigtigheid en aanspreeklikheid te versterk.
# En motorsport: Die F-I-A se Formule 1-kommissie het besluit om volgende jaar se Grand Prix-wedrenne te verkort in ooreenstemming met nuwe regulasies oor brandstofvloei vir krageenhede. Wedrenafstande sal van 305- na 290-kilometer verminder word, wat twee tot drie rondes korter sal wees, afhangend van die baan. Die kommissie het ook die reëls gewysig waarvolgens ‘n vaste tydsbeperking van drie uur van toepassing is op wedrenne wat deur reën onderbreek word. Dit bied groter buigsaamheid om onderbroke wedrenne te voltooi. Formule Een is dié naweek in Azerbeidjan terug ná ‘n week van rus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….