Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Frankryk het Groot-Brittanje verslaan en die Wêreldrugby Sewesreeks-titel in Los Angeles verower. Dit is hulle eerste titel in 19 jaar. Frankryk het die mans se goue medalje verseker met drie onbeantwoorde drieë in ‘n 21-nul-oorwinning. Hul enigste vorige oorwinning was in 2005 in Parys. Verder het hulle al ses eindstryde verloor waarin hulle sedertdien meegeding het. Die Speler van die Wedstryd in die eindstryd, Stephen Parez sê dis wonderlik dat hulle verlede week ‘n bronsmedalje in Kanada, en die week die goud kon wen:
Die Blitsbokke het in ‘n teleurstellende elfde plek klaargemaak. Zain Davids, wat twee drieë gedruk het, asook Ryan Oosthuizen en Tristan Leyds se bydrae het Suid-Afrika ʼn sege van 28-15 oor Kanada besorg in die stryd om die elfde plek. Dis die tweede agtereenvolgende toernooi waar die Blitsbokke nie kon slaag om uit hulle groep te vorder nie. Intussen het die Springbok-vrouesewes sesde geëindig nadat hulle met 53-nul teen Frankryk verloor het in die uitspeelstryd om vyfde plek.
# Sokker: Manchester City het ʼn agterstand uitgewis en Manchester United uiteindelik met drie-een verslaan in hulle Premierliga-kragmeting op die Etihad-stadion. Marcus Rashford het die besoekers ʼn voorsprong gegee met ʼn wonderwerk-doelskop in die agste minuut. In die tweede helfte het City oorheers en Phil Foden het die telling in die 56ste minuut gelykop gemaak. Hy het weer punte aangeteken om die heersende kampioen ʼn voorsprong te gee terwyl Erling Haaland die derde doel behaal het om ʼn oorwinning te verseker. Die span is nou een punt agter die voorlopers, Liverpool. City se bestuurder, Pep Guardiola, het Foden geloof:
# Motorsport: Die heersende wêreldkampioen, Max Verstappen, sê hy is bly dat hy dié seisoen met ‘n oorwinning kon afskop. Die Red Bull-jaer het voortgegaan waar hy verlede seisoen opgehou het, toe hy die voorste wegspringposisie in ‘n wedren-oorwinning kon omskep in die Bahreinse Grand Prix. Sy spanmaat, Sergio Perez, het tweede geëindig, met Carlos Sainz van Ferrari derde. Verstappen, wat dié seisoen gaan probeer om sy vierde agtereenvolgende wêreldkampioenskapstitel te verower, sê hy hoop die span kan voortbou op die sterk begin:
# En tennis: Die wêreld se nommer twee, Carlos Alcaraz, het net-net daarin geslaag om sy beroemde Spaanse landgenoot, Rafael Nadal, in hulle vertoonwedstryd in Las Vegas, Amerika, te klop. Nadal het die eerste stel gebuit en Alcaraz die tweede, waarna Alcaraz sy teenstander in die beslissende valbylpot 14-12 uitgeknikker het. Albei spelers het die wedstryd gebruik as voorbereiding vir die Indian Wells Meesterstoernooi wat Vrydag begin. Nadal was ʼn jaar lank buite aksie weens ʼn heupbesering voor sy terugkeer in Januarie in Australië kortgeknip is as gevolg van ʼn skeurtjie in ʼn spier.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….