Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die gewese Engelse losskakel Stuart Barnes sê dit sal ‘n span aangevoer deur ‘n talentvolle speler soos Ardie Savea van Nieu-Seeland of Antoine Dupont van Frankryk vereis om die Springbokke in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi te klop. Suid-Afrika gaan volgende jaar in Australië probeer om ‘n ongeëwenaarde derde agtereenvolgende titel te wen. Barnes skryf in die Britste Sunday Times die Bokke se organisasie is hul sterkste punt. Hy het Kurt-Lee Arendse, Damian Willemse en Cheslin Kolbe geprys vir hul ratsheid, en Damian de Allende vir sy bestendigheid.
Nog rugbynuus: Die Springbok-vroue sal môre in hul openingswedstryd van die W-15-wêreldreeks teen Wallis op Cardiff Arms Park uitdraf met ‘n gewysigde agterlyn en een verandering onder die voorspelers. Logan Welman begin in die nommer agt-trui in die plek van Aseza Hele, wat op die bank sal wees. Onder die agterspelers begin Felicia Jacobs as skrumskakel saam met losskakel en onderkaptein Libbie Janse van Rensburg. Maceala Samboya is terug in die span as buitesenter en Maria Tshiremba as vleuel. Afskop is om 8.15 die aand.
# Krieket: Suid-Afrika en Zimbabwe se vrouespanne speel vandag die voorlaaste van vyf T20-wedstryde in Bulawayo. Die besoekers het reeds die reeks beklink deur die eerste drie kragmetings te wen. Hulle het hul bure met ses paaltjies geklop in die eerste wedstryd en met 64 lopies in die tweede, waarna kaptein Laura Wolvaardt in die derde ‘n onoorwonne 126 gemoker en Suid-Afrika na ‘n oorwinning van 80 lopies gelei het. Die laaste wedstryd vind Sondag plaas voor die Proteas huis toe keer vir ‘n toets en witbalreekse teen Indië.
# Swem: Suid-Afrika se mees bekroonde Olimpiese swemmer, Tatjana Smith, keer terug ná haar uittrede wanneer sy volgende week aan die Suid-Afrikaanse kortbad-kampioenskap in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, deelneem. Die 29-jarige het in 2024 uit alle kompetisies getree nadat sy goud en silwer verower het op die Olimpiese Spele in Parys. Smith sal in die 50-, 100- en 200-meter borsslag en sommige aflosse meeding. Ander top-swemmers wat deelneem, sluit in Michael Houlie, Hannah Pearse, Georgia Nel, Guy Brooks en Chris Smith.
# En motorsport: Monaco sal volgende jaar ook ‘n Formule Een-snelren aanbied, wat die totaal op tien te staan bring. Die beheerliggaam, F-I-A, het die kalender vir 2027 bevestig, met 24 Grand Prix-wedrenne wat in 22 lande sal plaasvind. Die Europese skof sluit die terugkeer van die Portugese wedren in Junie in, terwyl Turkye in Oktober weer by die kalender ingesluit word en die Nederlandse Grand Prix van die lys geskrap is. Die seisoen begin op 12 Maart in Bahrein en eindig op 10 Desember in Abu Dhabi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….