Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, sokker: Banyana Banyana kom te staan teen Nigerië in die finale kwalifiserende ronde vir die Olimpiese Spele in Parys. Dit volg nadat Suid-Afrika Tanzanië 1-0 geklop het in gisteraand se tweede kwalifiseerder in Mbombela. Dit het Banyana ‘n totale oorwinning van 4-0 gegee nadat hulle hul opponente in verlede week se wedstryd in Dar-es-Salaam 3-0 geklop het. Die kwalifiserende kragmeting teen Nigerië word in April gespeel. Die afrigter van Banyana, Desiree Ellis, sê sy is tevrede met haar span se spelpeil:
# Rugby: Kaartjies vir die Springbokke se tuistoetse teen Ierland, Portugal en Argentinië, sal vanaf Maandag te koop wees. Die heersende wêreldkampioen pak Ierland op die sesde Julie op Loftus Versfeld, en ‘n week later in Durban voordat hulle die 20ste Julie in Bloemfontein teen Portugal te staan kom. Kaartjiepryse begin teen 350-rand. Kaartjiepryse vir die toets teen Argentinië in Mbombela op 28 September begin teen 150-rand. Besonderhede van die twee toetse teen die All Blacks op Ellispark en in Kaapstad moet nog bevestig word.
Nog nuus oor die sport is dat Engeland se afrigter, Steve Borthwick, styf duimvas hou dat Marcus Smith betyds fiks sal wees vir die Sesnasies-kragmeting met Ierland. Die jong losskakel het ‘n kuitbesering opgedoen wat hom sover uit al drie sy land se wedstryde gehou het, met Engeland wat net-net teen Italië deurgeskraap, Wallis met twee punte geklop en teen Skotland verloor het. Die kompetisie hervat volgende naweek wanneer Italië Skotland in Rome die stryd aansê, Engeland wat Ierland op Twickenham pak, en Wallis wat in Cardiff teen Frankryk uitdraf.
# Gholf: Thomas Aiken van Suid-Afrika sê hy is vol vertroue oor die SDC-kampioenskap by St Francis Links in die Oos-Kaap. Matthew Baldwin van Engeland is die verdedigende kampioen. ‘n Topfiks Zander Lombard en DP World- Toer-wenners Thriston Lawrence, Ockie Strydom en Dylan Frittelli sluit saam met Aiken by ʼn sterk Suid-Afrikaanse groep aan. Aiken sê hy het ʼn paar moeilike jare agter die rug, maar hy speel nou beter as ooit:
# En laastens, tennis: Die wêreldnommer-vier, Daniil Medvedev, het die verdediging van sy Dubai-kampioenskapstitel met ‘n oortuigende oorwinning begin. Die Rus het in sy eerste wedstryd sedert hy verlede maand die Australiese Ope-eindstryd verloor het, sy 340ste loopbaanoorwinning behaal met ‘n sege van 6-3, 7-5 oor Alexander Shevchenko van Kazakhstan. Medvedev speel vandag in die ronde van 16 teen Lorenzo Sonego van Italië. Ugo Humbert van Frankryk het sy landgenoot Gael Monfils met 4-6, 6-3, 6-3 geklop, terwyl die vierde gekeurde Karen Khachanov van Rusland vir Luca Van Assche van Frankryk in skoonstelle verslaan het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….