Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Die Protea-vroue het Zimbabwe met 80 lopies verslaan in die derde T20-wedstryd in Bulawayo en daarmee die reeks van vyf wedstryde beklink. Kaptein Laura Wolvaardt het ‘n onoorwonne 126 lopies aangeteken, die hoogste T20-telling ooit deur ‘n Protea-vrouespeler en haar 18de honderdtal, wat Smriti Mandhana van Indië se rekord ewenaar. Wolvaardt het ‘n tweedepaaltjie-vennootskap van 173 lopies gedeel met Karabo Meso, wat ‘n onoorwonne 50 bygedra het tot die Proteas se telling van 200 vir een. Zimbabwe is daarna vir 120 uitgeboul nadat Annerie Dercksen vyf paaltjies geneem het.
Nog krieket: Australië se toetsspan keer volgende maand die eerste keer na Suid-Afrika terug sedert die skuurpapier-skandaal van die 2017-18-seisoen, en die gewese Protea-kaptein, Graeme Smith, sê hulle gaan beslis daaraan herinner word. Kaptein Steve Smith, onderkaptein David Warner en die bouler Cameron Bancroft is geskors omdat hulle die bal met skuurpapier grof gemaak het tydens die derde toets in Kaapstad, wat Suid-Afrika uiteindelik met 322 lopies gewen het. Graeme Smith sê Australië kan nie wegkom van sy verlede nie.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê spelerbestuur is van die uiterste belang te midde van die span se veeleisende reisprogram die afgelope paar weke. Die Bokke berei tans voor vir volgende naweek se eenmalige toets teen die Wallabies in Perth. Die span het gisteraand in Australië aangekom na hul reeks-oorwinning oor die All Blacks in Baltimore in Rugby’s Greatest Rivalry. Erasmus sê hulle gaan te staan kom teen ‘n vasberade Wallabie-span wat ‘n goeie vertoning voor hul tuisskare wil lewer.
# Swem Suid-Afrika het ingestem om die volle rente aan die Olimpiese kampioen Tatjana Smith te betaal op prysgeld wat vir langer as ‘n jaar teruggehou is. Sy het sowat 560-duisend-400-rand gewen nadat sy goud en silwer verower het op 2023 se Watersport-wêreldkampioenskap in Japan. Swem SA het die geld eers betaal na Smith se deelname aan 2024 se Olimpiese Spele in Parys, maar nie die rente nie. Smith se regsverteenwoordiger, Wian Spies, sê ‘n betalingsooreenkoms vir die rente is nou bereik.
# En atletiek: Die Wêreldkampioenskap gaan in 2029 die eerste keer in Afrika gehou word wanneer dit in die Keniaanse hoofstad, Nairobi, aangebied word. Wêreldatletiek het 2031 se byeenkoms aan München in Duitsland toegeken. Nairobi het in 2017 die Wêreld-onder-18-byeenkoms aangebied en vier jaar later die Onder-20-kampioenskap, maar sy bod teen Tokio in Japan verloor vir verlede jaar se senior byeenkoms. 2029 se kampioenskap sal op die Kasarani-stadion plaasvind, wat reeds opgeknap word vir volgende jaar se Afrikabeker-sokkertoernooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….