Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Wallabies se afrigter, Les Kiss, sê hulle weet hulle sal moet verbeter voor volgende naweek se toets teen die Springbokke in Perth. Suid-Afrika is propvol selfvertroue nadat hulle die aartsvyand, Nieu-Seeland, 3-1 verslaan het in Rugby’s Greatest Rivalry danksy ‘n oortuigende oorwinning in die laaste toets in Baltimore. Kiss sê die wêreldkampioen gaan ‘n heeltemal ander uitdaging bied as tydens sy eerste vier toetse in beheer teen Japan en Argentinië. Hy besef Australië sal meer fisies en intens moet wees.
# Krieket: Die Protea-vroue kan vandag in Bulawayo die T20-reeks van vyf wedstryde teen Zimbabwe beklink. Suid-Afrika het Vrydag die eerste wedstryd met ses paaltjies gewen nadat Zimbabwe vir slegs 116 lopies uitgeknikker is. Anneke Bosch het daarna die besoekers se aanslag gelei en hulle het die teiken binne 14 boulbeurte bereik. In Sondag se tweede wedstryd het Suid-Afrika 193 vir drie aangeteken danksy 65 lopies van Bosch, en Zimbabwe is tot 129 vir sewe beperk nadat Seshnie Naidu drie paaltjies geneem het. Die voorlaaste wedstryd word Donderdag gespeel en die vyfde een Saterdag.
# Tennis: Die Italianer Jannik Sinner het ‘n veeleisende skedule aangekondig in sy strewe om die jaar as wêreld-nommer-een af te sluit. Alexander Zverev van Duitsland het die gaping tussen hulle verklein toe hy die Amerikaanse Ope gewen het nadat ‘n knieprobleem Sinner uit die hele Noord-Amerikaanse hardebaanseisoen gehou het. Sinner beplan om aan verskeie toernooie deel te neem voor die ATP-eindtoernooi in Turyn in sy geboorteland in November. Hy het in April weer nommer-een geword en in Julie Wimbledon gewen vir sy vyfde Grand Slam-titel.
# Motorsport: Die organiseerders van die Formule Een Spaanse Grand Prix is gereed om die nuwe Madring-renbaan vir volgende jaar te verander ná die afgelope naweek se openingswedren. Renjaers het gekla oor die gebrek aan verbysteek-geleenthede, terwyl toeskouers op sosiale media ook krities was oor toegang tot die terrein en geriewe. Die Madring se besturende direkteur, Luis Garcia Abad, sê die beheerligganaam, F-I-A, het dit duidelik gemaak hoe die baanontwerp verbeter kan word, en sê daar is ruimte om verbeterings aan te bring.
# En die president van Wêreldatletiek, Sebastian Coe, sê die beheerliggaam sal nie sy standpunt oor Rusland en Belarus verander nie. Wêreldatletiek het in Julie aangekondig die verbod op Russiese en Belarussiese atlete bly van krag. Dis in Maart 2022 ingestel en verhoed hulle om aan internasionale kompetisies deel te neem. Die Russiese Atletiekfederasie het verlede maand ‘n nuwe appèl-aansoek by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie ingedien teen die verbod. Coe sê hulle erken wel die belangrikheid daarvan om uiteindelik volle wêreldwye deelname aan die sport te herstel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….