Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die Springbok-sewesafrigter, Sandile Ngcobo, sê bestendigheid het tot dusver vanjaar ontbreek in hul vertonings in die Wêreld-sewesreeks. Die Blitsbokke het Australië met 24-7 verslaan om uiteindelik in ‘n teleurstellende negende plek te eindig, in die Kanadese toernooi in Vancouver. Suid-Afrika het nou ná vier toernooie na die sesde algehele posisie teruggesak. Ngcobo sê die positiewe afronding in die laaste twee wedstryde, waarin die Blitsbokke Kanada en Australië geklop het, het gewys wat gedoen kan word:
Intussen is Argentinië steeds die beste manspan in die wêreld nadat hulle die derde agtereenvolgende keer die kroon in die Kanada-sewes opgeraap het. Die Pumas het Nieu-Seeland in die eindstryd uiteindelik met 36-12 verslaan om hulle greep op die Wêreld-sewesreeks te versterk. In die vroue-eindstryd het Portia Woodman-Wickliffe se driekuns Nieu-Seeland gehelp om Frankryk met 35-19 te verslaan en die tweede agtereenvolgende keer die titel te wen. Woodman-Wickliffe sê die nuwe spelers in die span het hulle kant gebring:
# Gholf: Die Sweed Björn Åkesson het sy terugkeer gevier deur die Nelson Mandelabaai-kampioenskap by die Humewood-gholfklub in Gqeberha te wen. Die 35-jarige speler het in 2017 uitgetree nadat hy sy DP World-toer-speelregte en sy sin vir die spel verloor het. Hy het ‘n ronde van vier onder 68 behaal om een hou voor die tweemalige wenner op die Uitdaagtoer, Lee Slattery van Engeland, te eindig, nadat die kampioenskap weens sterk wind tot 54 putjies verkort is. Die Australiër Hayden Hopewell was derde op 16 onder.
# Krieket: Indië het die reeks van vyf toetse teen Engeland beklink deur die voorlaaste wedstryd in Ranchi met vyf paaltjies te wen. Die besoekers het ‘n eerstebeurt-voorsprong van 46 lopies verkwis toe hul in hulle tweede beurt vir ‘n skamele 145 uitgeboul is. Dit het die gashere ‘n wenteiken van 192 lopies gestel, wat hulle op die vierde dag behaal het met vyf paaltjies plat. Engeland het die eerste twee toetse gewen en Indië die volgende drie. Die Indiese kolwer, Shubman Gill, sê die oorwinning beteken die wêreld vir hierdie jong span:
# En, sokker: Liverpool het Chelsea met een-nul verslaan om hulle tiende Carabao-beker by Wembley te wen en daarmee hulle posisie as suksesvolste span in die geskiedenis van die kompetisie vergroot. Virgil van Dijk se kopskoot in die 118de minuut het die oorwinning vir Jurgen Klopp se span in sy laaste seisoen verseker. Maar Chelsea se bestuurder, Mauricio Pochettino, sal nou nog langer moet wag vir sy eerste trofee in Engeland. Klopp sê sy span was uitsonderlik, veral die jong akademiespelers:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….