Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die Springbok-sewes-voorspeler, Zain Davids, sê dissipline gaan die belangrikste faktor wees in die naweek se wêreldreeks-sewestoernooi in Vancouver, Kanada. Suid-Afrika is in dieselfde groep as Nieu-Seeland, Groot-Brittanje en Ierland. Die Blitsbokke is tans vierde op die punteleer. Davids, wat in sy sewende Vancouver-toernooi speel, sê die groep moet alles uithaal om hulle doelwitte in vanjaar se reeks te bereik:
# Krieket: Engeland se onderkaptein, Ollie Pope, sê die kanse is goed dat kaptein Ben Stokes sal boul in die vierde toets teen Indië wat môre in Ranchi begin. Stokes het sedert die tweede toets om die As teen Australië in Julie nog nie weer geboul nie en het in November ‘n knie-operasie ondergaan. Hy het gister in die nette geboul en Pope sê hulle sal sien hoe hy voel. Indië is 2-1 voor in die reeks van vyf wedstryde nadat hulle Engeland verneder het in die derde toets in Rajkot, wat hulle met ‘n enorme 434-lopies gewen het.
# Sokker: Liverpool loop met vier punte voor op die Engelse Premierliga se punteleer. Die span het in die tweede helfte herstel en Luton op Anfield met vier-een verslaan. Luton het teen rustyd voorgeloop ná ‘n kopskoot deur Chiedozie Ogbene. In die tweede helfte het doele deur Virgil van Dijk, Cody Gakpo, Luiz Diaz en Harvey Elliott die Reds se lot verander en hulle ‘n sege besorg. Dit is Luton se derde agtereenvolgende nederlaag en hulle bly in die relegasie-sone. Liverpool-bestuurder, Jurgen Klopp, sê hy is tevrede met sy span se veggees:
# Motorsport: Mercedes se Formule Een-baas, Toto Wolff, sê hulle is tevrede met die wettigheid van die vernuwende ontwerp van die voorste vlerk op hulle nuwe motor. Die voorste vlerk het tydens die voorseisoentoetse in Bahrein onder die loep gekom oor die manier waarop dit die lugvloei rondom die motor beïnvloed. Dit lyk asof die span ʼn skuiwergat gevind het, twee jaar nadat F1-regulasies verander is om los vlerk-dele te verbied. Wolff sê hulle het tydens die ontwerp van die voorste vlerk met die F-I-A beraadslaag:
# En laastens, atletiek: Die voormalige Olimpiese kampioen Carl Lewis beskryf die voorgestelde formaatverandering aan verspring as ‘n Aprilgek-grap. Die uitvoerende hoof van Wêreldatletiek, Jon Ridgeon, stel voor die afspringbord moet vervang word met ‘n afspringsone, wat sal wegdoen met spronge wat gediskwalifiseer word weens oortrap. Spronge sal dan net gemeet word van waar die atlete vastrap tot waar hulle in die put land. Lewis, wat spog met nege Olimpiese medlajes, sê verspring is die moeilikste item en die verandering sal die spesiale vaardigheid wat dit vereis, uitskakel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….