Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die Springbok-vrouesewes wil by die Wêreldreeks onder die top-agt eindig om hulle kern-status vir volgende seisoen te bevestig. Hulle het in die eerste deel van die reeks een wedstryd in Dubai gewen, niks in Kaapstad nie en twee verlede maand in Perth. Suid-Afrika is die naweek in Vancouver in dieselfde groep as Ierland, Nieu-Seeland en Brasilië. Die Springbok-sewespeler, Marlize de Bruin, sê dit was swaar om verlede maand met sewe-nul teen Brasilië te verloor:
Nog nuus oor die sport is dat Engelse rugby nie na Wembley sal verskuif nie, en opknappingswerk aan Twickenham sal oor drie jaar begin. Die Rugbyvoetbalunie het ‘n voorstel verwerp dat die tuiste van Engelse rugby na die bekende sokkerstadion verskuif word. Volgens berigte sal dit sowat 15,8-miljard-rand kos om Twickenham op te knap, wat te duur is. Die stadion is in 1909 gebou. Indien slegs noodsaaklike werk van 7,1-miljard-rand gedoen word, sal dit steeds ‘n lening verg. Dit sal ook die goedkeuring van die unie se raadslede vereis.
# Tennis: Die Suid-Afrikaners, Isabella Kruger en Lilitha Ndungane, is deur na die tweede ronde van die WIPHOLD Internasionaal in Pretoria. Kruger is deur nadat haar teenstander, die Nederlander Indy de Vroome, moes onttrek terwyl sy met 3-6 en 3-0 agter was. Die 18-jarige Ndungane het haar landgenoot, Kaitlyn Ramduth, met 6-0 en 6-1 geklop. Die heersende Wimbledon- junior kampioen, Clervie Ngounoue van Amerika, en die toernooi se gunsteling, Laura Pagossi van Brasilië, is ook deur na die tweede ronde.
# Sokker: Die volgende Afrikabeker-toernooi sal in die middel van die jaar gespeel word, en nie in Januarie soos die geval was met die laaste twee toernooie nie. Afrika se beheerliggaam, die C-A-F, het volgens berigte ‘n ooreenkoms met die gasheer, Marokko, bereik dat dit van Julie tot Augustus 2025 gespeel sal word. Die ooreenkoms het blykbaar ook die steun van die wêreldbeheerliggaam, FIFA, al bots die datums met dié van FIFA se Klub-Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Datums vir die Afrikabeker-kwalifiseerders is nog nie bekend nie.
# En laastens, krieket: Indië se snelbouler, Jasprit Bumrah, sal ‘n blaaskans neem wanneer die vierde toets teen Engeland Vrydag in Ranchi begin. Die wêreld se nommer een toetsbouler het met 17 paaltjie tot dusver die meeste in die reeks laat kantel. Indië se krieketbeheerraad sê die besluit om Bumrah te laat rus, is geneem teen die agtergrond van hoeveel krieket wat hy die afgelope tyd gespeel het. Die snelbouler, Mukesh Kumar wat nie in die derde toets gespeel het nie, het intussen by die groep in Ranchi aangesluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….