Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: Die Blitsbokke is in dieselfde groep as die All Blacks, Groot Brittanje en Ierland in die naweek se wêreldreeks-sewestoernooi in Vancouver, Kanada. Suid-Afrika is tans vierde op die punteleer nadat hulle die eerste toernooi in Dubai gewen het, maar nie baie goed gevaar het in Kaapstad en Perth nie. Argentinië is bo-aan die punteleer nadat hulle gewen het in die Moederstad en Australië, met Fidji tweede en Australië derde. Vancouver word gevolg deur die toernooi in Los Angeles in die Verenigde State volgende naweek.
# Tennis: Suid-Afrika het vyf spelers in die trekking vir die WIP-HOLD (whip-hold) internasionale vroue-toernooie wat vandag in Pretoria begin. Die week lange toernooi is een van twee agtereenvolgende W-50-toernooie van die Internasionale Tennisfederasie en die prysgeld beloop 760-duisend-rand elk. Die trekking sluit 17 spelers in wat onder die wêreld se top-500 tel. Die Suid-Afrikaanse groep sluit vier promotorskeuses in, naamlik Isabella Kruger, Zoë Kruger, Kaitlyn Ramduth en Danielle Dai Chapman. Die tiener Lilitha Ndungane is deur na die kwalifiserende rondes.
Nóg Tennisnuus is dat die Amerikaner Taylor Fritz sy titel by die Delray Beach Ope suksesvol verdedig het en nou spog met sy sewende loopbaan-titel. Die wêreld se nommer tien het sy landgenoot, Tommy Paul, met 6-2 en 6-3 verslaan om slegs die tweede speler in die toernooi se geskiedenis te word om dit twee jaar na mekaar te wen. Fritz sê hy het ‘n lang lys goed gehad wat hy reg moes doen, maar die winderige toestande tydens die wedstryd het alles verander:
# Krieket: Engeland se afrigter, Brendon McCullum, het sy steun aan Jonny Bairstow toegesê en sê hy beplan nie om hom weg te laat vir die vierde toets teen Indië nie. Die 34-jarige is skerp gekritiseer oor sy kolfwerk toe hy slegs 102 lopies in die eerste drie toetse aangeteken het. Hy het vier lopies aangeteken in Engeland se nederlaag van 434 lopies in die derde toets in Rajkot. McCullum erken Bairstow het in die reeks onderpresteer, maar sê hulle moet sy selfvertroue herstel en hom help om op die taak ter hande te fokus.
# En ons sluit af met Motorsport: Die nuwe Formule Een-seisoen kom môre in Bahrein aan die gang, waar die motors tot Vrydag getoets sal word. Red Bull het die vorige seisoen oorheers, met die Nederlandse jaer Max Verstappen wat maklik sy derde agtereenvolgende bestuurderskampioenskap ingepalm het. Hy het ‘n rekord 19 uit 22 wedrenne gewen, en sy span het weggestap met sy sesde vervaardigerskampioenskap. Die Bahreinse Grand Prix vind volgende naweek plaas, en Verstappen hoop vir nog ‘n goeie seisoen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….