Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Bulle het die driemalige Suid-Afrikaanse Afrigter van die Jaar, Johan Ackermann, as nuwe hoofafrigter aangestel. Jake White en die Bulle het vroeër die maand ooreengekom dat hulle paaie na vyf jaar skei nadat hy die span tot drie Verenigde Rugbykampioenskaps-eindstryde in vier seisoene gelei het. Ackermann beskryf sy aanstelling as ‘n droom wat waar geword het. Die Blou Bulle-maatskappy se uitvoerende hoof, Edgar Rathbone, sê Ackermann is nie net ‘n uitstekende breier nie, maar ook ‘n leier wat die waardes van die unie uitleef.
Die slot Eben Etzebeth sal intussen Saterdag sy rekord as die mees ervare Springbok na 133 toetse opskuif nadat hy in die opdrafspan gekies is vir die wedstryd teen Georgië in Mbombela. Ruan Nortjé sal sy slotmaat wees. Die vleuel Kurt-Lee Arendse kan ‘n mylpaal van 100-punte vir Suid-Afrika bereik as hy slegs een drie druk. Die wedstryd is die derde tussen die twee lande. Die Bokke het Georgië 46-19 geklop in die groepsafdeling van 2003 se Wêreldbekertoernooi in Australië, en weer 40-9 in Pretoria in 2021.
# Krieket: Die president van die Wes-Indiese Eilande se beheerliggaam, Kishore Shallow, vra ‘n noodvergadering van voormalige ster-spelers nadat die span vir slegs 27 lopies uitgeboul is in die derde toets teen Australië. Die snelbouler Mitchell Starc het ses paaltjies vir nege lopies geneem en die Windies is op Sabinapark met 176-lopies verslaan. Die gasheer het die laagste toetstelling ooit van 26 lopies wat Nieu-Seeland in 1955 opgestel is, met slegs een lopie vrygespring. Shallow sê daar sal ’n ondersoek wees om die treurige reeksnederlaag van 3-0 te evalueer.
Die legendariese Engelse snelbouler, Jimmy Anderson, gaan intussen vanjaar vir Manchester Originals speel in The Hundred. Dit sal sy eerste deelname aan franchise-krieket wees na ‘n beroepsloopbaan van langer as 25-jaar. Anderson sal 43 wees wanneer die toernooi volgende maand begin. Hy was met sy uittrede verlede jaar die Engelse bouler met die meeste paaltjies ooit nadat hy 704 toetspaaltjies en 269 paaltjies in internasionale eendag-wedstryde platgetrek het. Sy voormalige spanmaat, Andrew Flintoff, se tienerseun, Rocky, sal vir Northern Superchargers speel waar sy pa hoofafrigter is.
# Gholf: Die verdedigende kampioen, Xander Schauffele van Amerika, speel saam met sy landgenoot JJ Spaun en die Spanjaard Jon Rahm in die eerste twee rondes van die Ope wat môre op Royal Portrush in Noord-Ierland begin. Rory McIlroy, wat probeer om sy tweede major-titel dié seisoen in te palm, speel in sy tuistoernooi saam met Tommy Fleetwood van Engeland en die Amerikaner Justin Thomas. Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler van Amerika, slaan af saam met sy landgenoot Collin Morikawa en die Ier Shane Lowry. Louis Oosthuizen is onder tien Suid-Afrikaanse deelnemers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….