Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met nuus van die Statebondspele: Span Suid-Afrika het 28 medaljes gewen op die 23ste Spele in Glasgow: sewe goud, elf silwer en tien brons. Die swemmers het 22 van die land se medaljes gebuit met Pieter Coetzé wat skoonskip gemaak het in die rugslag-items en ses rekords opgestel het. Chad le Clos het die mees bekroonde atleet in die Spele se geskiedenis geword. Hy het drie medaljes in Glasgow gewen, wat sy totaal op 21 medaljes te staan bring op vyf Spele oor 16 jaar. Australië se 171 is die meeste medaljes.
Ahmedabad in Indië wil intussen voortbou op die werk wat Glasgow 2026 gedoen het terwyl hulle voorberei om 2030 se Spele aan te bied. Skotland het die byeenkoms die vierde keer aangebied nadat die Australiese staat Victoria onttrek het. Meer as drie-duisend atlete van 74 lande het aan 215 medalje-items deelgeneem. Gujarat se adjunk-hoofminister, Harsh Sanghavi, sê hulle aanvaar met dankbaarheid die verantwoordelikheid om die Eeufeesspele aan te bied:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle voorbereiding vir Saterdag se eenmalige toets teen Argentinië en die reeks teen Nieu-Seeland is op koers. ‘n Groep van 26 het gisteroggend in Buenos Aires aangekom en hervat vandag hul voorbereiding op die veld. Spelers soos kaptein Siya Kolisi, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Eben Etzebeth en Lood de Jager, wat almal wedstryd-tyd nodig het, is by die groep ingesluit. Erasmus sê hulle sien uit na die uitdaging om weer met die Pumas kragte te meet.
Intussen sê Nieu-Seeland se plaasvervanger-kaptein, Codie Taylor, hulle het geen illusies oor die uitdaging om die wêreldkampioen-Springbokke tuis aan te pak nie. Hy voer die span aan tot die gereelde kaptein, Ardie Savea, by die groep aansluit voor die eerste toets op Elllispark die 22ste. Die All Blacks se toer van agt wedstryde skop Vrydag amptelik af teen die Stormers in Kaapstad. Taylor sê hulle is gereed:
# En gholf: Die viermalige major-kampioen Ernie Els sal Suid-Afrika in Desember aanvoer in ‘n nuwe vertoontoernooi op Fancourt in George. Hulle sal teen ‘n wêreldspan te staan kom, gelei deur die tweemalige major-kampioen José Maria Olazabal van Spanje. Die voormalige Protea-krieketkaptein AB de Villiers en die gewese Springbok-rugby-ster Fourie du Preez is ook deel van Span Suid-Afrika vir die Icons Cup Suid-Afrika. Die wêreldspan het reeds die gewese Engelse sokkerkaptein, John Terry, en die Windies se voormalige krieketheld, Brian Lara, aangekondig. Nog spelers sal later aangewys word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….