Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die veelsydige Protea-speler Marizanne Kapp glo hulle beste lê nog voor terwyl hulle steeds ‘n kans het om die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi te haal. Suid-Afrika het Sondag ‘n broodnodige oorwinning met ses paaltjies oor Indië behaal nadat hulle hul openingswedstryd teen Australië met 65 lopies verloor het. Hulle het Pakistan wel daarna naelskraaps gewen. Die Proteas moet groot oorwinnings oor Nederland en Bangladesj behaal om hul netto-lopiekoers te verbeter indien Indië ook hul oorblywende wedstryde wen. Kapp sê hulle sal alles moet uithaal.
Nog krieketnuus: Engeland se hoofafrigter, Brendon McCullum, het vier veranderinge aangebring aan die span vir die bepalende derde toets teen Nieu-Seeland wat môre op Trent Bridge begin. Kaptein Ben Stokes en die snelbouler Gus Atkinson keer terug nadat hulle vir ‘n wedstryd geskors was. Die draaibouler Shoaib Bashir en die paaltjiewagter Jamie Smith is terug na vaderskapsverlof. McCullum hou vol daar is geen probleem met sy verhouding met Stokes nie:
# Rugby: Die skrumskakel Faf de Klerk is uitgelaat uit die Springbok-groep vir die Nasieskampioenskapstoetse, maar afrigter Rassie Erasmus sê die 34-jarige is nog heeltemal deel van die groep se toekomsplanne. Hy het die 30-jarige Herschel Jantjies ingesluit, wat in 2023 laas vir Suid-Afrika gespeel het. Erasmus sê De Klerk het tyd deurgebring saam met die groep in die aanloop tot die wedstryd teen die Barbarians en dieselfde word met Jantjies gedoen, en die skrumskakel-moontlikhede sal oorweeg word na die toetse teen Engeland, Scotland en Wallis.
# Sokker: Cristiano Ronaldo het twee doele aangeteken in Portugal se oorwinning van 5-0 oor Oesbekistan in Houston en die eerste speler geword om ‘n doel aan te teken in ses verskillende Wêreldbekertoernooie. Die tweede laagste gekeurde span, Ghana, het in Boston ‘n doellose gelykopuitslag teen Engeland afgedwing. Engeland bly bo-aan Groep L, maar moet nou vir Panama klop om vir die uitklopfase te kwalifiseer. Kroasië het in Toronto hul eerste oorwinning behaal toe die plaasvervanger Ante Budimir ‘n doel teen Panama aangeteken het vir ‘n oorwinning van 1-0.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, en die voormalige topspeler, Novak Djokovic van Serwië, keer die eerste keer sedert die Franse Ope terug na mededingende tennis. Hulle sal aan die Giorgio Armani-uitnodigingstoernooi in Hurlingham, Engeland, deelneem as deel van die voorbereiding vir Wimbledon, wat Maandag begin. Sinner en Djokovic sal by ander topspelers aansluit, soos die Italianer Flavio Cobolli, die plaaslike speler Cameron Norrie, die Amerikaner Ben Shelton en Karen Khachanov van Rusland. Sinner se eerste wedstryd is vandag teen Norrie, en Djokovic kom teen Khachanov te staan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….