Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-vroue het hul hoop lewend gehou om die uitspeelronde van die T20-Wêreldbekertoernooi te haal met ‘n veelsydige vertoning deur Marizanne Kapp, wat hulle aangespoor het tot ‘n oorwinning met ses paaltjies oor Indië in Manchester. Kapp en Shabnim Ismail het elk twee paaltjies geneem en Indië is tot 158 vir sewe beperk. Kapp het daarna ‘n onoorwonne 81 aangeteken en ‘n derdepaaltjie-vennootskap van 97 met Tazmin Britz gedeel. Die Proteas het die teiken bereik met vyf balle oor. Dit was hulle suksesvolste teiken-jaagtog nog in ‘n T20-Wêreldbekertoernooi.
Nog krieketnuus: Engeland se kaptein, Ben Stokes, en die snelbouler Gus Atkinson is ingsluit in die groep vir die derde en beslissende toets teen Nieu-Seeland wat Donderdag op Trent Bridge begin. Hulle is uitgelaat vir die tweede toets na ‘n onlangse voorval in ‘n Londense nagklub. Engeland het die tweede toets op die Oval met 253 lopies verloor. Die Engelse en Walliese Krieketraad het Stokes en Atkinson na ‘n ondersoek vrygespreek van gewelddadige gedrag, maar bevind hulle het spesifieke kontrakverpligtinge verbreek. Albei het ‘n skriftelike waarskuwing ontvang.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus glo die Bulle sal weer maklik by die nasionale opset inpas. Twaalf Bulle, wat die naweek nie beskikbaar was vir Bok-diens nie omdat hulle in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap gespeel het, is ingesluit in die groep van 46 vir die Nasieskampioenskap. Die losskakel Handré Pollard is gekritiseer vir sy swak spelpeil, maar Erasmus sê hy is ‘n uiters betroubare wedstrydwenner:
Nog rugbynuus: Ardie Savea is aangewys as die All Blacks se nuwe kaptein in aanloop tot volgende maand se Nasieskampioenskaps-toetse teen Frankryk, Italië en Ierland. Hy vervang Scott Barrett, wat ‘n langtermyn-besering het. Afrigter Dave Rennie het ʼn groep van 34 aangewys wat vier nuwelinge insluit: Xavier Numia, Josh Moorby, Fehi Fineanganofo en Anton Segner. Savea sê kapteinskap gaan daaroor dat elkeen in die groep bemagtig word om die beste te wees:
# En sokker: Argentinië se kaptain, Lionel Messi, mik na ‘n Wêreldbeker-rekord in vandag se groepswedstryd teen Oostenryk in Dallas. Hy het die Duitser Miroslav Klose se rekord van 16 doele in Wêreldbeker-toernooie geëwenaar toe hy ‘n driekuns behaal het teen Algerië. Messi, wat Woensdag 39 word, hoop sy land kan die eerste sedert Brasilië in 1962 word om hulle titel suksesvol te verdedig. Argentinië is tans die voorloper in Groep J, gevolg deur Oostenryk, Jordanië en Algerië. Die afskop in Arlington, Dallas, is sewe-uur Suid-Afrikaanse tyd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….