Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met sokker: Bafana Bafana se hoofafrigter, Hugo Broos, sê hulle kan Suid-Korea nie onderskat in Donderdag se allerbelangrike Groep A-Wêreldbekerwedstryd nie. Die mede-gasheer, Mexiko, is reeds deur na die laaste 32 en Suid-Korea is tans tweede in die groep, gevolg deur die Tsjeggiese Republiek en Suid-Afrika. Broos het Suid-Korea se gestruktureerde spel as die belangrikste uitdaging beskryf:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die Stormers het die Bulle gewys hoe om Leinster tuis te klop toe hulle die Verenigde Rugbykampioenskaps-halfeindstryd teen die Ierse span verloor het. Die Bulle en Leinster speel vanaand in die eindstryd in Dublin. Erasmus sê die Stormers het Suid-Afrika se naam hoog gehou al het hulle verloor, want swak dissipline en die afwesigheid van verskeie beseerde ster-spelers het hulle belemmer. Hy verwag die gasheer gaan ‘n taai uitdaging wees, maar glo die Bulle kan een stap beter vaar as die Stormers.
Nog rugbynuus: Die Barbarians se afrigter, Scott Robertson, sê dis ‘n spesiale geleentheid vir die uitnodigings-vyftiental om in Suid-Afrika teen die wêreldkampioen-Springbokke te speel. Hulle meet môre in Gqeberha kragte met die aanvang van die Bokke se seisoen. Die voormalige All Black-afrigter het ‘n groep van 23 spelers van 12 verskillende lande byeengebring, insluitend TJ Peranara, Virimi Vakatawa, en Miracle Fai’ilagi. Robertson sê die gehalte en verskeidenheid van sy span is spesiaal:
# Krieket: Suid-Afrika se vrouespan besef hulle sal op hulle beste moet wees in Sondag se T20-Wêreldbekerwedstryd teen Indië in Manchester, Engeland. Die Proteas se nederlaag teen Australië in hulle eerste groepwedstryd het hulle onder druk geplaas omdat slegs die voorste twee spanne in elke groep die halfeindronde haal. Suid-Afrika het Woensdag ‘n briljante afskop teen Pakistan verkwansel en uiteindelik met net twee paaltjies gewen. Die kolwer Annerie Dercksen erken hulle sal moet uitpluis wat verkeerd gegaan het voor die wedstryd teen die sterk Indiese span.
# En motorsport: Mercedes het sy versoek teruggetrek om ‘n hersiening van die uitslae van die Formule Een Grand Prix in Monaco. George Russell is met vyf sekondes gestraf weens spoed in die kuipe, en weer omdat hy dit nie uitgedien het tydens ‘n kuipe-stop nie. Dit het hom tot 12de plek laat terugsak terwyl hy op koers was vir ‘n moontlike plek op die podium. Mercedes se hersiening het gevolg nadat Alpine daarin geslaag het om Pierre Gasly se strafpunte om te keer, wat hom weer derde gelaat het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….