Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met sokker: Drie Brasiliaanse skeidsregters sal môre se Wêreldbeker-openingswedstryd tussen Suid-Afrika en Mexiko in Mexikostad hanteer. Wilton Sampaio sal die fluitjie dra, met Bruno Pires en Bruno Boschilia sy hulpskeidsregters. Sampaio was ook betrokke by die vorige twee Wêreldbekertoernooie in Katar en Rusland. ‘n Rekordgroep van 52 skeidsregters en 88 hulp-skeidsregters is saamgestel, terwyl aanstellings vir spesifieke wedstryde gewoonlik twee tot drie dae voor die tyd bekendgemaak word. Afskoptyd tussen Bafana Bafana en Mexiko is môreaand nege-uur Suid-Afrikaanse tyd.
# Rugby: Die Suid-Afrikaans-gebore Skotse vleuel Duhan van der Merwe, die Nieu-Seelandse legende TJ Perenara en Kyle Sinckler van Engeland is in die Barbarians se groep ingesluit wat volgende Saterdag in Gqeberha teen die Springbokke speel. Van der Merwe, wat in 53 toetse 35 drieë vir Skotland gedruk het, sal die beroemde trui die eerste keer dra saam met sy spanmaats D’Arcy Rae en Liam McConnell. Perenara, die All Blacks se gewese onderkaptein, het 89 toetse op sy kerfstok. Verdere aankondigings oor die span sal mettertyd gedoen word.
# Krieket: Die kaptein van die Protea-vrouespan, Laura Wolvaardt, glo die insluiting van die veterane Shabnim Ismael en Dané van Niekerk sal die span versterk in die T20-Wêreldbekertoernooi wat Vrydag in Engeland en Wallis begin. Hulle het hul vroeëre uittrede herroep, maar Wolvaardt sê hulle was die hele tyd aktief en sal Suid-Afrika help om ‘n stap verder te gaan nadat hulle die eindstryd van die afgelope drie witbal-Wêreldbekertoernooie gehaal het. Die Proteas speel hul groepwedstryde teen Australië, Pakistan, Indië en Nederland.
Nog krieketnuus: Ben Stokes oorweeg volgens berigte om uit te tree as Engeland se kaptein. Hy en sy spanmaat, Gus Atkinson, word ondersoek nadat hulle blykbaar span-protokolle oortree het. Hulle was Maandag in die vroeë oggendure betrokke in ‘n onderonsie met ʼn Saracens-akademiespeler in ʼn Londense nagklub. Die voorval na Engeland se oorwinning oor Nieu-Seeland in die eerste toets het daartoe gelei dat ʼn veiligheidsbeampte van Engeland en Wallis se Krieketraad steke moes kry. Stokes oorweeg dit glo ook om sy loopbaan van 15-jaar vaarwel te roep.
# En hokkie: Suid-Afrika wil sy tuisveldvoordeel ten volle inspan in môre se FIH-Nasiesbeker-openingswedstryd teen Frankryk in Kaapstad. Suid-Afrika het vier jaar gelede die heel eerste toernooi gewen, maar Nieu-Seeland het daarna oorheers en opeenvolgende toernooie gewen. Nege spanne sal sake uitspook vir ʼn plek in die FIH-Pro-liga. Suid-Afrika se kaptein, Dayaan Cassiem, sê hulle benadering is om die toernooi wedstryd vir wedstryd aan te pak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….