Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Glasgow Warriors verwag ‘n intense fisiese aanslag in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-halfeindstryd teen die Bulle. Die Skotte het die Pretoria-span twee keer hierdie seisoen geklop, maar albei wedstryde was tot aan die einde in die weegskaal. Die hulpafrigter van Glasgow, Nigel Carolan, beskryf die wedstryd as ‘n massiewe geleentheid vir hulle teen taai teenstanders. Hy sê hulle moet net hul voete op die grond hou en beheer wat hulle kan. Die wedstryd word op Murrayfield in Edinburgh gespeel en skop om 3:30 Saterdagmiddag af.
Nog rugbynuus, die voormalige Springbok-afrigter Jacques Nienaber is onseker oor sy toekoms by die Ierse span Leinster al het hy nog ‘n jaar van sy kontrak oor. Hulle speel die naweek teen die Stormers in die halfeindronde nadat hulle teen Bordeaux verloor het in die eindstryd van die Kampioenebeker. Dit was hul tweede keer in die eindstryd, terwyl hulle ook verlede seisoen die VRK gewen het. Nienaber sê egter uitvoerende hoofde en rade word beïnvloed deur openbare en mediakritiek eerder as deur spanne se prestasies.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê Bafana Bafana se hulpafrigter, Helman Mkhalele, en veiligheidshoof, Mdu Mbatha, het vertrek om by die res van die Wêreldbeker-groep in Mexiko aan te sluit nadat hul visums uiteindelik toegestaan is. Die Verenigde State se Algemene Konsulaat in Johannesburg het hul aanvanklike aansoeke weens onbekende redes afgekeur. SAFA sê die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het ingegryp, waarna albei beamptes visums ontvang het. Bafana Bafana speel Vrydag ‘n vriendskaplike opwarmingswedstryd teen Jamaika.
Intussen waarsku die Nasionale Dobbelraad Suid-Afrikaners om op hul hoede te wees vir onwettige dobbelplatforms en vals weddery-toepassings tydens die toernooi. Die raad sê misdaadsindikate maak dikwels gebruik van verhoogde weddenskappe tydens groot sportgeleenthede deur die gebruik van bedrieglike mobiele toepassings, uitvissing-skakels en misleidende advertensies op sosiale media om verbruikers te bedrieg. Die publiek word versoek om verantwoordelik te dobbel en seker te maak dat operateurs wettig is voor hulle weddenskappe aangaan.
# En krieket: Sommige spanne sal die pienk bal in dagtoetse gebruik nadat die Internasionale Krieketraad se raad ‘n proefneming daarmee goedgekeur het om verlore tyd weens swak lig te verminder. Pienk balle word reeds in dag-aand-toetse gebruik, terwyl rooi balle nie maklik in swak lig sigbaar is nie. Wit balle, wat in T20’s en eendagwedstryde gebruik word, is nie duursaam genoeg vir die langste formaat nie. Die IKR het ook navorsing oor beligtingstegnologie vir wedstrydbeamptes en velde goedgekeur om verlore spel weens swak lig te verminder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….