Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-sewes-ster Tristan Leyds is benoem vir die Mans-Sewesrugbyspeler van die Jaar-toekenning, saam met Henry Hutchison van Australië en Vuiviwa Naduvalo van Fidji. Die benoemings in die Mans-Nuweling van die Jaar-kategorie is Kele Lasaqa van Nieu-Seeland, die Australiër Harry Wilson en Finley Lloyd-Gilmour van Brittanje. Maddison Levi van Australië, die Nieu-Seelander Jorja Miller en Ariana Ramsey van Amerika is aanspraakmakers op die titel van Vroue-speler van die Jaar. Die wenners sal Sondag gekroon word na die laaste Wêreldkampioenskaps-toernooi in Bordeaux, Frankryk.
Vyftienman-rugby: Die Stormers het ‘n groot hupstoot gekry voor Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-halfeindstryd teen Leinster in Dublin. Die slot Ruben van Heerden is terug in die groep na harsingskudding en die senter Dan du Plessis na ‘n kniebesering. Die Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu en die vleuel Seabelo Senatla is beseer tydens die kwarteind-oorwinning oor Cardiff. Die Stormers se voorspeler-afrigter, Rito Hlungwani, verwag ‘n moeilike wedstryd teen Leinster:
# Sokker: Bafana Bafana het gister sonder hul hulpafrigter, Helkman Mkhalele, na hul Wêreldbeker-oefenbasis in Pachuca, Mexiko, vertrek. Hy wag steeds vir die verwerking van sy visum deur die Amerikaanse ambassade. Die groep sou oorspronklik Sondag vertrek, maar is teruggehou deur ‘n vertraging met die verkryging van visums wat deur die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging as ‘n administratiewe gemors beskryf is. SAFA se president, Danny Jordaan, sê die visumkwessie sal hopelik spoedig afgehandel word:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, is deur na haar vierde agtereenvolgende Franse Ope-kwarteindronde. Sy het Naomi Osaka van Japan verslaan en kom nou teen die Rus, Diana Shnaider, te staan wat die eerste Grand Slam-kwarteindronde van haar loopbaan gehaal het toe sy met die Amerikaner, Madison Keys, afgereken het. In die mansafdeling het die Italianer, Matteo Berrettini, die Argentyn Juan Manuel Cerundolo verslaan om die eerste keer in byna vier jaar ‘n Grand Slam-kwarteindronde te bereik. Felix Auger-Aliassime van Kanada het Alejandro Tabilo van Chili uitgeskakel.
# En laastens, Olimpiese Spele: Werk aan Brisbane se nuwe stadion het begin nadat Australiese inheemse en omgewingsgroepe dae van betogings beëindig het. Queensland se premier, David Crusafulli, het die eerste sooi gespit op Victoriapark en dit ‘n mylpaal-oomblik in die aftelling na die byeenkoms van 2032 genoem. Hy beskryf die stadion as die stad se polsende sport-, kulturele en groen hart en ‘n plek waarop alle inwoners van Queensland trots kan wees. Die stadion sal 63-duisend toeskouers huisves en sal die openings- en die afsluitingseremonie aanbied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….