Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het bevestig al 26 Bafana Bafana-spelers het nou hul visums ontvang en reis vandag na Noord-Amerika vir die Wêreldbekertoernooi. Hulle was veronderstel om gister te vertrek, maar dis vertraag weens ‘n administratiewe visumfout. Die hulpafrigter, spandokter, hoof van sekerheid en ‘n ontleder wag steeds op visums. Die adjunkminister van Sport, Kuns en Kultuur, Peace Mabe, sê koppe moet rol:
FIFA se raad het intussen verskeie reëlveranderings goedgekeur vir die toernooi in Kanada, Amerika en Mexiko. Die reëls sluit in vyf-sekonde-aftellings vir ingooie en doelskoppe, rooikaarte vir spelers wat hul monde toehou tydens onderonsies, strawwe vir spanne wat van die veld stap uit verset, en verpligte een-minuut-behandelingsperiodes buite die veld. Daar sal ook ‘n verpligte drie-minuut waterpouse in elke helfte wees. Video-assistent-skeidsregters sal ook nuwe magte hê, insluitend ingryping vir tweede geelkaarte wat verkeerd toegeken is, voorvalle van identiteits-verwarring en hoekskoppe wat verkeerd toegeken is.
# Krieket: Die 15-jarige plaaslike kolfsensasie, Vaibhav Sooryavanshi, het vyf Indiese Premierliga-toekennings ingepalm ná gister se eindstryd in Ahmedabad. Die speler van Rajasthan Royals het gewen vir waardevolste speler, die Oranje-pet vir die meeste lopies, naamlik 776, die beste opkomende speler, die super-treffer en die meeste sesse, 72. Gujarat Titans se Suid-Afrikaanse snelbouler, Kagiso Rabada, het die Pers-pet verower nadat hy die meeste paaltjies geneem het, naamlik 29 in 17 wedstryde. Royal Challengers Bengaluru het hul titel suksesvol verdedig met ‘n oorwinning met vyf paaltjies oor Gujarat.
# Rugby: Die Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu gaan lank op die kantlyn wees nadat hy beseer is in die Stormers se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen Cardiff. Skanderings toon die 24-jarige het sy enkel verstuit. Feinberg-Mngomezulu kan tot drie maande uit wees, wat hom uitsluit van die Springbokke se Nasieskampioenskaps-toetse teen Engeland, Skotland en Wallis volgende maand. Hy sê die besering is ‘n herinnering dat geen speler immuun is teen terugslae nie. Die Stormers het 44-21 gewen.
En laastens, sewes-nuus: Australië is in Valladolid, Spanje, tot kampioen gekroon nadat hulle Suid-Afrika 26-19 verslaan het in die eindstryd van die sewes-wêreldkampioenskaps-toerooi. Australië het vier drieë gedruk en die Blitsbokke drie, maar Suid-Afrika is steeds bo-aan die punteleer nadat hulle verlede maand in Hongkong gewen het. Die laaste van die drie toernooie word komende naweek in Bordeaux, Frankryk, gespeel. Die Blitsbokke se afrigter, Philip Snyman, sê hulle was nie klinies genoeg nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….