Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, maak vanaand in Pretoria sy finale span bekend vir die Wêreldbekertoernooi, met president Cyril Ramaphosa wat ook teenwoordig sal wees. Broos gaan sy voorlopige groep van 32 spelers tot 26 verminder vir die toernooi in Kanada, Amerika en Mexiko. Bafana Bafana is in Groep A saam met Mexiko, die Tsjeggiese Republiek en Suid-Korea. Broos beklemtoon spelers se huidige vorm, fiksheid en aanpassing by sy wedstrydplan sal deurslaggewend wees in sy finale keuse.
# Rugby: Die Junior Springbokke het hul tweede oortuigende oorwinning van die Internasionale Onder-20-reeks behaal deur Fidji 82-25 te klop by Wynberg Boys’ High in Kaapstad. Suid-Afrika het 12 drieë gedruk, met Luan Giliomee wat ‘n driekuns behaal het met sy terugkeer na die span. Die Junior Bokke het Chili verlede week 97-0 afgeransel in hul openingswedstryd. In gister se ander kragmeting het Georgië Chili 59-26 geklop. Suid-Afrika pak Georgië Saterdag in die laaste ronde in Stellenbosch, terwyl Fidji teen Chili te staan kom.
Nog rugbynuus: Die Stormers se Projek 2029 het stukrag gekry met die terugkeer van die Springbok-puntemasjien Cheslin Kolbe. Die projek mik daarna om die span te posisioneer om die Kampioenebeker die eerste keer te wen. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê hulle waardeer Kolbe se finansiële opoffering om na Kaapstad terug te keer, want hy kon baie meer verdien het as hy in Japan gebly het. Dobson ontken dat dit ‘n aftreepos is. Kolbe sal in Julie by die Stormers aansluit.
# Krieket: Die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, is deur na die Indiese Premierliga se eindstryd toe hulle Gujarat Titans in Dharamsala met 92 lopies verslaan het. Kaptein Rajat Patidar se onoorwonne 93 van 33 balle het RCB na 254 vir vyf help neem, die hoogste telling in die kompetisie se uitspeelgeskiedenis. Jacob Duffy het daarna drie paaltjies platgetrek en Gujarat help uitboul vir 162. Gujarat speel Vrydag teen die wenner van vandag se uitklopwedstryd tussen Sunrisers Hyderabad en Rajasthan Royals vir ‘n tweede kans om Sondag se eindstryd te haal.
# En tennis: Die eerste-gekeurde Jannik Sinner het sy veldtog vir ‘n eerste Franse Ope-titel begin met ‘n oorwinning in skoon stelle oor die plaaslike promotorskeuse Clement Tabur. Die Italianer hoop om ‘n loopbaan-Grand Slam te voltooi. Die Australiër Adam Walton het die sesde-gekeurde Rus Daniil Medvedev in vyf stelle uitgeskakel. In die vroue-afdeling het die verdedigende kampioen, Coco Gauff, haar Amerikaanse landgenoot Taylor Townsend geklop. Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, het haar veldtog begin met ‘n maklike oorwinning oor Jessica Bouzas Maneiro van Spanje.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….