Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die veelsydige Springbok Cheslin Kolbe sê hy het altyd geglo hy sal uiteindelik na Kaapstad terugkeer. Gister is bevestig hy keer in Julie terug na die Stormers vanaf Japan. Die 32-jarige dubbele Wêreldbekerwenner het sy buiging in 2018 vir Suid-Afrika gemaak en sedertdien 49 toetse gespeel en 136 punte aangeteken. Hy het die Stormers in 2017 verlaat om vir Toulouse in Frankryk te speel en in 2023 na Japan verhuis. Kolbe sê dis wonderlik om terug te keer na die span waar alles vir hom begin het.
Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, het intussen talle veranderinge aangebring aan sy groep vir die tweede ronde van die Internasionale Onder-20-reeks teen Fidji wat vandag in Kaapstad plaasvind. Die losvoorspelers Risima Khosa en Vuyo Gwiji word vervang deur Quintin Potgieter en Luke Cannon. Jordan Steenkamp vervang Lindsey Jansen op linkervleuel en Christian Vorster draf uit as buitesenter. Luan Giliomee keer terug as heelagter. Die Junior Bokke het Chili verlede week in die openingsronde 97-0 verpletter.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê besprekings oor Wêreldbeker-bonusse vir Bafana Bafana-spelers moet nog gefinaliseer word. SAFA se adjunkpresident, Linda Zwane, sê hulle sal met spelers praat op die kamp voor die toernooi. Bafana het tans een bevestigde opwarmingswedstryd teen Nicaragua Vrydag op die Orlando-stadion. Zwane het beklemtoon dat geen kwessies onopgelos gelaat sal word voor die groep later die maand na Mexiko vertrek nie:
Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, begin vandag sy veldtog vir ‘n loopbaan-Grand Slam in Parys. Die Franse Ope-kroon is die enigste Grand Slam-titel wat die Italianer nog nie gewen het nie. Hy het ‘n baie goeie kans om dit te vermag in die afwesigheid van sy grootste mededinger, die Spanjaard Carlos Alcaraz. Die verdedigende kampioen sukkel met ‘n hardnekkige polsbesering wat hom ook uit Wimbledon gaan hou. Sinner speel in die eerste ronde op Roland Garros teen die Fransman Clement Tabur, wat tans 165ste op die wêreldranglys is.
Die Fransman Gael Monfils en Stan Wawrinka van Switserland het intussen albei nederlae gely in die eerste ronde. Dit was hul laaste verskyning in Parys voor albei einde vanjaar uittree. Monfils het teen sy landgenoot Hugo Gaston verloor terwyl Wawrinka, 2015 se kampioen, teen die Nederlander Jesper de Jong vasgeval het. In die vroueafdeling het die viermalige kampioen, Iga Swiatek van Pole, die Australiese promotorskeuse Emerson Jones huis toe gestuur. Elina Svitolina van Oekraïne en die Italianer Jasmine Paolini het ook oorwinnings behaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….