Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Mamelodi Sundowns het hul tweede Kampioeneliga-titel opgeraap na ‘n gelykoptelling van een elk teen AS FAR in die tweede deel van die eindronde in Rabat, Marokko. Dit was genoeg om 2016 se kampioen ʼn gemiddelde sege van 2-1 te besorg nadat hulle FAR verlede naweek in Pretoria 1-0 geklop het. Sundowns het hul plek in die Interkontinentale Bekerkompetisie en die FIFA Klub-Wêreldbekertoernooi verseker. Kaptein Ronwen Williams sê hulle verdien dit:
# Rugby: Die Springbok-sewesspeler, Ronald Brown is weens ‘n besering uitgesluit van die Sewes Wêreldkampioenskap-toernooie in Spanje en Frankryk. Ricardo Duartee, wat ‘n lid van die seëvierende spanne in Kaapstad en Perth was, is opgeroep vir die groep wat gister na Europa vertrek het. Die Blitsbok-afrigter Philip Snyman het reeds vir Gino Cupido en Dewald Human teruggeroep. Suid-Afrika het verlede maand die eerste van drie byeenkomste in Hongkong gewen en is boaan die punteleer, wat vroeg volgende maand die algehele wenner sal bepaal.
# Krieket: Die Indiese Premierliga betree dié week die uitspeelronde. Die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru en Gujarat Titans, wat onderskeidelik eerste en tweede geëindig het in die liga-fase, pak mekaar môre in die eerste kwalifiserende wedstryd in Dharamsala. Die wenner sal na Sondag se eindstryd in Ahmedabad deurdring. Die verloorder kry Vrydag nog ‘n kans om die eindstryd te haal wanneer hulle te staan kom teen die wenner van Woensdag se uitskakelwedstryd tussen Sunrisers Hyderabad en Rajasthan Royals in New Chandigarh.
# Tennis: Die derde-gekeurde Novak Djokovic het sy poging om ʼn rekord 25ste Grand Slam-titel te buit goed begin met ʼn oorwinning in die eerste ronde van die Franse Ope. Die Serwiër het die Fransman Giovanni Mpetshi Perricard geklop. Die sewende-gekeurde Taylor Fritz het verloor teen sy Amerikaanse landgenoot, Nishesh Basavareddy. Alexander Zverev van Duitsland het sy veldtog afgeskop met ʼn sege oor Benjamin Bonz van Frankryk. In die vroue-afdeling het die Britse nommer een, Emma Raducanu, in die eerste ronde teen die Argentyn Solana Sierra verloor.
# En motorsport: Mercedes se renjaer, Kimi Antonelli het sy voorsprong in die Formule Een-bestuurderskampioenskap tot 43 vergroot toe hy die Kanadese Grand Prix gewen het. Dis die Italianer se vierde agtereenvolgende oorwinning. Sy spanmaat George Russell, wat voor weggespring het, het weens ʼn foutiewe krageenheid onttrek. Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton van Ferrari, was tweede en Max Verstappen van Red Bull derde. Antonelli sê dis nie hoe hy wou wen nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….