Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Sokkernuus is eerste aan die beurt: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het ‘n voorlopige groep van 32 aangekondig vir die Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. Dit sluit sewe spelers in wat in die buiteland speel, onder andere Lyle Foster and Olwethu Makhanya. Mamelodi Sundowns en Orlando Pirates het elk nege spelers in die groep en Bradley Cross en Olwethu Makhanye is onder die nuwelinge. Broos sal Woensdag die finale groep bekendmaak. Suid-Afrika is in Groep A saam met die mede-gasheer, Mexiko, Suid-Korea en die Tsjeggiese Republiek.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê die afgelope oefenkamp in Kaapstad was ‘n sukses, met spelers wat ten volle in ooreenstemming gebring is met die strukture en stelsels. Die groep van 40 het tien nuwelinge ingesluit. Nog ‘n oefenkamp sal volgende maand gehou word ter voorbereiding vir die dubbel-kragmeting tussen die Springbokke en die Barbarians, en die SA A-span teen Zimbabwe. Erasmus sê die meeste van die doelwitte is bereik:
Steeds by rugby: Die Junior Springbokke het hul Internasionale Onder-20-reeks geopen met ‘n oortuigende oorwinning van 97-0 oor Chili by Rondebosch Boys’ High in Kaapstad. Suid-Afrika het 15 drieë gedruk, insluitend driekunste deur Lindsey Jansen en Risima Khosa, terwyl Vusi Moyo 22 punte met skoppe bygedra het. Afrigter Kevin Foote sê ondanks die ongebalanseerde telling het die wedstryd steeds waardevolle lesse gebied. In die ander kragmeting het Georgië Fidji 29-23 geklop. Die Junior Bokke speel Dinsdag teen Fidji by Wynberg Boys’ High, terwyl Chili teen Georgië sal uitdraf.
# Krieket: Gujarat Titans het ʼn oortuigende oorwinning van 89 lopies oor Chennai Super Kings behaal en hul kans versterk om onder die toptwee in die Indiese Premierliga te eindig en twee geleenthede te kry om die eindstryd te haal. Hulle het 229 vir vier behaal na aanvangskolwer Sai Sudharsan se 84. Mohammed Siraj en Kagiso Rabada het daarna elk drie paaltjies platgetrek en CSK help uitboul vir 140. Dit beteken CSK kan nie meer die uitklopronde haal nie.
# En tennis: Die topgekeurde Jannik Sinner speel in die eerste ronde van die Franse Ope teen die plaaslike promotorskeuse Clement Tabur. Moontlike teenstanders op die Italianer se pad sluit in die Amerikaner Ben Shelton en die Rus Daniil Medvedev. Die driemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, begin sy poging vir ʼn 25ste Grand Slam-titel teen die Fransman Giovanni Mpetshi Perricard. Djokovic is in dieselfde helfte geloot as die Noorweër Casper Ruud en die Duitser Alexander Zverev. Gael Monfils van Frankryk, wat na vanjaar uittree, pak sy landgenoot, Hugo Gaston.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….