Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Kaptein Ruhan Nel en vleuel Seabelo Senatla se terugkeer van beserings versterk die Stormers vir volgende naweek se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen Cardiff in Kaapstad. Nel het herstel van ‘n kuitbesering terwyl ‘n beenbesering Senatla die grootste deel van die seisoen uitgehou het. Die gashere wil wraak neem vir verlede naweek se groepfase-nederlaag in Wallis teen dieselfde span, wat die Stormers derde op die punteleer laat eindig het. Direkteur van rugby, John Dobson, sê dis wonderlik om twee sleutelspelers terug te hê vir hierdie belangrike ontmoeting.
# Krieket: Nog kaartjies sal beskikbaar gestel word vir die Nuwejaarstoets teen Engeland in Kaapstad. Krieket Suid-Afrika sê die aankondiging dat Nuweland uitverkoop is, was deels bemarkingsgedrewe en al die kaartjies is nie uitverkoop nie. Hy ontken ook dat die meeste kaartjies vir Engeland se ondersteuners opsy gesit is. Die toets is die derde en laaste van die besoekers se eerste rooibalreeks in Suid-Afrika sedert 2019. Die eerste toets begin op 17 Desember in Johannesburg en die tweede die 26ste in Centurion.
Ander krieketnuus: Die driemalige kampioen, Kolkata Knight Riders, het Mumbai Indians met vier paaltjies verslaan om hul geringe hoop lewend te hou om die Indiese Premierliga se uitspeelronde te haal. Mumbai, wat reeds uitgeskakel is, het 147 vir agt aangeteken. Manish Pandey het daarna 45 van 33 balle behaal en Rovman Powell het 40 bygedra, en KKR het die teiken gehaal met sewe balle oor. Hulle moet Delhi Capitals nou in hul laaste groepswedstryd klop en hoop Rajasthan Royals en Punjab Kings verloor albei om die uitspeelronde te haal.
# Sokker: Aston Villa moes 30 jaar wag voordat hulle weer ‘n trofee kon inpalm. Hulle oorwinning van 3-0 oor Freiburg in Istanboel het hulle die Europese Liga-titel besorg. Youri Tielemans, Emi Buendia en Morgan Rogers het doele aangeteken om Villa te laat seëvier in die kompetisie – 44-jaar na hul vorige sege in 1982. Afrigter Unai Emery, wat die liga nou vyf keer gewen het, sê hierdie kompetisie is spesiaal:
# En tennis: Die wêreld se voorste spelers beplan glo om hul mediaverskynings op die Franse Ope tot 15 minute te beperk uit verset teen prysgeld. Baie is van mening hulle ontvang nie ‘n regverdige deel van Grand Slam-toernooie se prysgeld en billike speler-voordele nie. Spelers wat gekies is vir Vrydag se eerste nuuskonferensie sal na 15 minute uitstap. Die gemiddelde Grand Slam-toekenning vir prysgeld is 15-persent van die inkomste terwyl spelers wil hê dit moet tot 22-persent verhoog word. Die Franse Ope se prysgeld is vanjaar met 9,5-persent verhoog.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….