Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Alle kaartjies is volgens berigte reeds uitverkoop vir die Nuwejaarstoets tussen die Proteas en Engeland op Nuweland in Kaapstad. Die uiters gewilde sportgebeurtenis keer terug nadat dit vanjaar oorgeslaan is. Kaartjieverkope het gister geopen en Krieket Suid-Afrika het kort daarna bevestig alle kaartjies is opgeraap. Die wedstryd sal die derde en laaste een wees van Engeland se eerste toetsreeks in Suid-Afrika sedert 2019. Die eerste toets begin op 17 Desember in Johannesburg en die tweede die 26ste in Centurion.
Ander krieketnuus: Vyf spanne gaan dit uitbaklei vir die oorblywende plek in die uitspeelrondes van die Indiese Premierliga. Die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, Gujarat Titans en Sunrisers Hyderabad het reeds gekwalifiseer, terwyl Mumbai Indians en Lucknow Super Giants reeds uitgeskakel is. Dit laat Punjab Kings, Rajasthan Royals, Chennai Super Kings, Delhi Capitals en Kolkata Knight Riders om mee te ding om die vierde kwalifiserende plek. Die eerste kwalifiseerder word volgende Dinsdag beslis, die uitskakelstryd die volgende dag, die tweede kwalifiseerder volgende Vrydag en die eindstryd volgende Sondag.
# Rugby: Die Springbok-vroue se hoofafrigter, Swys de Bruin, het ‘n sterk groep van 28 spelers gekies vir die Afrikabekertoernooi vir vroue wat van Saterdag in Nairobi, Kenia, plaasvind. Anathi Qolo is kaptein van die span wat nege nuwelinge insluit, asook agt gewese toets-spelers wat weer na die internasionale verhoog terugkeer. Suid-Afrika, die verdedigende kampioen, speel haar groepswedstryde teen Uganda, Madagaskar en die gasvroue. De Bruin sê die toernooi is die ideale geleentheid vir nuwe spelers en gee sommige meer ervare spelers behoorlike wedstryd-tyd.
# Sokker: Die 34-jarige voorspeler, Neymar, is ingesluit in Brasilië se groep van 26 vir die Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. Sy 79 is die meeste doele ooit vir Brasilië, maar hy het weens beserings in 2023 laas vir sy land gespeel. Afrigter Carlo Ancelotti het ook die La Liga-sterre Vinicius Junior van Real Madrid en Raphinha van Barcelona ingesluit. Premierliga-spelers soos Liverpool se doelwagter, Alisson, Gabriel Martinelli van Arsenal, en Casemiro en Matheus Cunha van Manchester United is ook in die groep. Brasilië het die Wêreldbeker al vyf keer gewen.
# En gholf: LIV Gholf soek volgens berigte ongeveer 4,15-miljard-rand in beleggingskapitaal ná vanjaar. Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds het verlede maand aangekondig dat hy nie meer die liga na hierdie seisoen gaan befonds nie. Die soewereine welvaartfonds het sy strategie verskuif na binnelandse programme en sny uitgawes aan globale ondernemings wat nie opbrengste lewer nie. LIV Gholf se uitvoerende hoof, Scott O’Neil, kyk glo ook na ‘n sekondêre beleggingsplan van 2,5-miljard-rand, afhangende van spanverkope en ‘n nuwe mediaregte-ooreenkoms wat die gaping kan oorbrug.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….