Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê hulle sal moet verbeter voor volgende Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen die Ierse span, Munster, op Loftus Versfeld. Die Bulle het die Italiaanse span Benetton 45-19 afgeransel vir ‘n tuis-kwarteindstryd. Dit was hul sesde agtereenvolgende sege, wat die vierde plek op die punteleer verseker het. Munster het die Leeus 24-17 geklop en vyfde geëindig. Ackermann sê hulle aanvalstegnieke is een van die fokuspunte:
# Gholf: Gerhard Pepler van Suid-Afrika het ‘n laaste ronde van sewe onder-baansyfer-65 aangeteken om die Sonskyntoer se pro/am-toernooi op die Irene-buiteklub in Gauteng te wen. Hy kon die sterk aanslag van sy landgenoot Graham van der Merwe afweer, wat tweede geëindig het op 22, gevolg deur die Wallieser Jack Davidson op 21-onder. Pepler, wie se enigste vorige oorwinning op die toer in 2023 was, is bly om weer te wen:
Nog gholfnuus: Aaron Rai van Engeland het die PGA-kampioenskap, sy eerste major-titel, beklink op die Aronimink-gholfklub in Pennsilvanië. Die wêreld-nommer-44 het vyf onder 65 aangeteken en algeheel op nege onder geëindig, drie houe voor die Spanjaard en tweemalige major-kampioen, Jon Rahm, en die Amerikaner Alex Smalley, wat gesamentlik tweede is. Rai, wat die eerste Engelse PGA-kampioen in 107 jaar is, sê hy het met sy oorwinning ʼn klomp dinge aan homself bewys:
# Krieket: Die voorlaaste week van die Indiese Premierliga het aangebreek en baie is nog op die spel om uitspeelwedstryde te verseker. Die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, is stewig bo-aan die punteleer met 16 punte na hulle Punjab Super Kings gister geklop het. Gujarat Titans is in die tweede plek, Sunrisers Hyderabad derde en Punjab vierde. Hulle word gevolg deur Chennai Super Kings, Rajasthan Royals, Delhi Capitals en Kolkata Knight Riders, terwyl Mumbai Indians en Lucknow Super Giants nie meer in tel is nie. Die uitspeelwedstryde begin volgende Dinsdag.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het die loopbaan-Goue Meesters voltooi toe hy die Italiaanse Ope gewen het – ʼn rekord van ses agtereenvolgende Meesters-titels. Die 24-jarige het Casper Ruud van Noorweë geklop om die eerste plaaslike kampioen in 50-jaar te word. Hy het boonop by Novak Djokovic aangesluit om al nege ATP-Meesters-eenduisend-titels in te palm. Djokovic het dié prestasie in 2018 behaal. Sinner sê dis spesiaal om tuis te wen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….