Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Die hoofafrigter van die Protea-vroue, Mandla Mashimbuyi, sê die veteraan Shabnim Ismail is weer in die groep omdat hulle haar X-faktor nodig het vir die T20-Wêreldbekertoernooi wat volgende maand in Engeland en Wallis begin. Die 37-jarige is ingesluit in die groep van 15 nadat sy haar uittrede omgekeer het. Mashimbuyi sê hy het Ismail genader na verlede jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi in Indië omdat hy Suid-Afrika se lustelose boulaanval wou versterk. Haar terugkeer word beskryf as die Proteas se beste kans om ‘n ontwykende Wêreldbeker-titel in te palm.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging het bevestig die video-assistent-skeidsregtertegnologie sal volgende seisoen in plaaslike sokker bekendgestel word nadat hy 20-miljoen-rand in staatsbefondsing ontvang het. Die voorsitter van SAFA se finansieskomitee, Mxolisi Sibam, sê voorbereidings is reeds sewe maande lank aan die gang. Die stelsel sal in samewerking met die Premier Sokkerliga ingestel word, met vrouesokker en nasionale kompetisies wat waarskynlik ook die tegnologie sal gebruik.
# Rugby: Die Stormers se Springbok-haker, André-Hugo Venter, sê enige plek onder tweede op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer sal nie goed genoeg wees nie. Die Kaapstadse span speel hierdie naweek teen Cardiff in Wallis in hul laaste groepwedstryd. Die Stormers is tans tweede op die punteleer en het reeds ‘n tuis-kwarteindstryd verseker. Venter sê hulle besef die gasheer, in sewende plek, sal desperaat wees om die uitspeelrondes te haal, maar hulle is ewe vasbeslote om in die top‑twee te eindig en ‘n tuis-halfeindstryd te verseker indien hulle so ver vorder.
Nog rugbynuus, die spel in Georgië is in omstredenheid gedompel toe die voormalige kaptein, Merab Sharikadze, vir 11-elf jaar verban is omdat hy sy spanmaats gehelp het om te kul in opkikkertoetse. Wêreldrugby het ook nog vyf spelers en die spandokter, Nutsa Shamatava, vir tot nege jaar verban. ‘n Gelyklopende ondersoek is saam met die Wêreld-agentskap teen Opkikkergebruik ingestel nadat onreëlmatighede in uriene-monsters gevind is. Daar is bevind Sharikadze het skoon uriene-monsters aan drie spelers verskaf voor 2023 se Wêreldbekertoernooi. Shamatava het spelers voor die tyd van beplande opkikkertoetse ingelig.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het sy 31ste agtereenvolgende Meesters-een-duisend-oorwinning behaal om die Italiaanse Ope se kwarteindronde te bereik en daarmee Novak Djokovic se rekord van agtereenvolgende seges geëwenaar. Die plaaslike speler het sy landgenoot Andrea Pellegrino geklop. Die Duitser Alexander Zverev het onverwags verloor teen nog ‘n Italianer, Luciano Darderi. In die vroueafdeling het die Amerikaner Coco Gauff vir Mirra Andreeva van Rusland geklop om die halfeindronde te haal. Sy speel nou teen die Roemeen Sorana Cirstea, wat Jelena Ostapenko van Letland verslaan het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….