Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê die proses begin binnekort om ‘n nuwe hoofafrigter vir Bafana Bafana te vind na Hugo Broos se vertrek. Broos is in sy vyfde en laaste jaar by die span en het aangedui dat hy gaan uittree ná die Wêreldbekertoernooi, wat volgende maand in Noord-Amerika afskop. Die voorsitter van SAFA se tegniese komitee, Jack Maluleke, sê hulle wil onmiddellik na die toernooi ʼn nuwe afrigter aanstel:
# Rugby: Die voormalige hoofafrigter Graham Henry is as ‘n All Black-keurder aangestel. Die 79-jarige het Nieu-Seeland in 2011 na Wêreldbeker-glorie gelei, en hulle het 88 van die 103 wedstryde met hom in beheer gewen. Die huidige hoofafrigter, Dave Rennie, sê hulle is opgewonde om Henry te betrek, want hy het sterk sienings oor spelers, en hulle het reeds ‘n paar briljante gesprekke gehad. Die All Blacks se seisoen begin met toetse teen Frankryk, Italië en Ierland, gevolg deur ‘n toer van sewe wedstryde in Suid-Afrika.
# Krieket: Delhi Capitals het Punjab Kings met drie paaltjies geklop en bly in die wedloop vir ‘n plek in die Indiese Premierliga se uitspeelronde. Punjab se kaptein, Shreyas Iyer, het ‘n onoorwonne 59 aangeteken en die span het 210 vir vyf bereik. Axar Patel en David Miller het daarna onderskeidelik 56 en 51 aangeteken in ‘n vennootskap van 64 lopies om die vyfde paaltjie, en Capitals het die teiken bereik met ‘n boulbeurt oor. Dit was Punjab se vierde agtereenvolgende nederlaag. Hulle is nou vierde op die punteleer.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is deur na die Italiaanse Ope se ronde van 16 en steeds op koers om nog ‘n ATP-Meesters-titel in te palm. Die plaaslike speler het die Australiër Alexei Popyrin verslaan en pak volgende sy landgenoot, Andrea Pellegrino, wat met die Amerikaner Frances Tiafoe afgereken het. In die vroue-loting is Iga Swiatek van Pole deur na die kwarteindronde nadat sy Naomi Osaka van Japan geklop het. Die Amerikaner Coco Gauff, Elina Svitolina van Oekraïne en die agtste-gekeurde Rus, Mirra Andreeva, het ook oorwinnings behaal.
Daar is intussen kommer oor die fiksheid van die wêreldnommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, kort voor die Franse Ope. Sy moes behandeling ontvang tydens haar derde-ronde wedstryd teen Sorana Cirstea van Roemenië in die Italiaanse Ope en het die wedstryd in drie stelle verloor. Dit was Sabalenka se tweede nederlaag in drie wedstryde nadat sy ook in die kwarteindronde van die Madridse Ope in Spanje teen Hailey Baptiste van Amerika verloor het. Sy hoop om gereed te wees wanneer die Franse Ope op 24 Mei in Parys begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….