Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Bulle se Springbok-senter, Jan Serfontein, het uitgetree na ‘n roemryke beroepsloopbaan van 15 jaar. Die 33-jarige Serfontein het in 35 toetse vir Suid-Afrika uitgedraf, asook in 2015 se Wêreldbekertoernooi in Engeland. Hy het vyf seisoene vir die Bulle gespeel voordat hy in 2017 by die Franse klub Montpellier aangesluit het. Daar het hy oor agt seisoene meer as 140 wedstryde gespeel en die Top 14-titel in 2022 gebuit. Serfontein het verlede jaar na die Bulle teruggekeer, maar dis deur ʼn ernstige kniebesering kortgeknip.
Ander rugbynuus: ’n Bekende gesig wag Vrydagaand op die Stormers in hul Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ulster in Belfast. ‘n Voormalige spanmaat, Juarno Augustus, speel nou vir die Ierse span, vir wie hy die wendrie gedruk het in verlede naweek se wedstryd teen Exeter Chiefs. Die Stormers se voorspeler-afrigter, Rito Hlungwani, sê hulle besef die losvoorspeler, met die bynaam Trokkie, is ’n goeie baldraer wat die gasheer se aanvallende spel verstrek. Die Stormers is tans boaan die punteleer en Ulster agtste.
# Sokker: FIFA se president, Gianni Infantino, het Wêreldbeker-kaartjiepryse verdedig en gesê dit weerspieël die vraag om wedstryde in Amerika, Kanada en Mexiko by te woon. Hy sê hulle is verplig om voordeel te trek uit Amerikaanse wette wat toelaat dat kaartjies vir duisende dollar bo die sigwaarde herverkoop mag word. Infantino sê FIFA het meer as 500-miljoen kaartjieversoeke ontvang, vergeleke met ongeveer 50-miljoen vir die vorige twee toernooie saam. Hy sê 25-persent van die kaartjies vir die groepfase kos sowat vierduisend-900-rand elk.
# Tennis: Die mansafdeling van die Italiaanse Ope het vanoggend in Rome begin nadat die vroue-afdeling gister begin het. Die 32 gekeurde spelers het loslootjies in die eerste ronde nie en sal eers in die ronde van 64 begin speel. Die plaaslike held en wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, neem die sewende keer deel. Hy het verlede jaar in die eindstryd teen sy groot teenstander, Carlos Alcaraz, verloor. Die Spanjaard neem nie vanjaar deel nie nadat hy ‘n gewrigsbesering opgedoen het. Sinner sal na verwagting Vrydag sy eerste wedstryd speel.
# En gholf: Die tweemalige major-kampioen, Jon Rahm, mag aan volgende jaar se Ryder-bekertoernooi op Adare Manor in Ierland deelneem nadat hy ʼn ooreenkoms met die DP World-toer bereik het. Die 31-jarige Spanjaard het geweier om boetes te betaal omdat hy sedert 2024 sonder amptelike toestemming aan LIV-gholftoernooie deelgeneem het. Die ooreenkoms sluit in dat Rahm al sy uitstaande boetes van 2024 tot hede betaal, en mag deelneem aan sekere DP World-toernooie in die res van die seisoen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….