Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eers na atletiek: Suid-Afrika het silwer gewen in die mans vier-maal-100-meter op die Wêreldafloskampioenskap in Botswana. Die span, bestaande uit Akani Simbine, Cheswill Johnson, Bradley Nkoane en Mvuyo Moss, het ‘n nuwe Afrika-rekord van 37,49 sekondes opgestel, terwyl Amerika goud gewen het en Duitsland brons. Suid-Afrika het ook silwer verower in die mans vier-maal-400-meter in twee-minute-57,07-sekondes, ‘n nasionale rekord. Botswana was eerste en Australië derde. Suid-Afrika se mans se vier-maal-100; vier-maal-400- en die vier-maal-400-meter gemengde aflosspanne het gekwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldatletiekkampioenskap in Beijing.
# Krieket: Die Indiese sakemagnaat wat in die Verenigde Koninkryk gebaseer is, Lakshmi M Mittal, en sy familie het ingestem om die Indiese Premierliga-franchise, Rajasthan Royals, te koop. Die ooreenkoms van sowat 27,5-miljard-rand sluit ook Paarl Royals in Suid-Afrika en Barbados Royals in die Karibiese Eilande in. Die Mittal-familie sal ná die transaksie ongeveer 75-persent van die konsessie besit, en Adar Poonawala van die Serum-instituut van Indië sowat 18-persent. Die bestaande beleggers, insluitend Rajasthan Royals se huidige hoofeienaar, Manoj Badale, behou die orige sewe-persent.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het die Madridse Ope gewen en die eerste man geword om vyf agtereenvolgende Meesters-een-duisend titels te buit. Die Italianer het die Duitser Alexander Zverev verslaan vir sy 28ste agtereenvolgende sege op hierdie vlak na sy oorwinnings in Parys, Indian Wells, Miami en Monte-Carlo. Indien die 24-jarige Sinner die Italiaanse Ope wen, het hy sy loopbaan-“Goue Meesters” voltooi. Sinner sê hy het hard gewerk vir sukses:
Die wêreld se voorste spelers is intussen diep teleurgesteld omdat die Franse Ope se prysgeld vanjaar met slegs 9,5-persent verhoog is. Sinner en die voorste vrouespeler, Aryna Sabalenka van Belarus, het verlede jaar by ander spelers aangesluit en geëis Grand Slam-toernooie moet hulle ‘n teiken van 22-persent van toernooi-inkomste betaal om dit in ooreenstemming te bring met die een-duisend-vlak-geleenthede. Hulle sê Roland Garros se inkomste het verlede jaar met 14-persent gestyg, maar spelers se aandeel het verminder tot 14,3-persent van die inkomste.
# En motorsport: Kimi Antonelli van Mercedes het die Miami Formule Een Grand Prix gewen – sy derde agtereenvolgende sege. Die 19-jarige Italianer het Lando Norris van McLaren uitgestof en het nou ‘n voorsprong van 20 punte op die wêreldkampioenskaps-punteleer. Oscar Piastri van McLaren was derde en Antonelli se spanmaat, George Russell, vierde, gevolg deur Max Verstappen van Red Bull, ondanks ‘n strafpunt van vyf sekondes. Antonelli sê dit was ‘n moeilike wedren:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….