Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Stormers sal die res van die Verenigde Rugbykampioenskap sonder die Springbok-skrumskakel Cobus Reinach en die tienerster Markus Muller moet klaarkom. Reinach het ‘n kniebesering opgedoen teen Glasgow Warriors en sal na verwagting ook die Bokke se Nasieskampioenskaps-toetse teen Engeland, Skotland en Wallis misloop. Muller, wat verlede naweek sy buiging vir die Kaapstadse span gemaak het, het sy vinger gebreek en is ook nie beskikbaar vir die Junior Bokke in die huidige Onder-20 Rugbykampioenskap in Gqeberha in die Oos-Kaap nie.
# Krieket: Die Protea-draaibouler, Keshav Maharaj, het by die Indiese Premierliga-span Mumbai Indians aangesluit as plaasvervanger vir die beseerde Nieu-Seelander Mitchell Santner. Die 36-jarige Maharaj het nie enige aanbiedings ontvang op vanjaar se IPL-veiling nie nadat hy voorheen vir Rajasthan Royals gespeel het, en sedert verlede jaar vir Pretoria Capitals in die SA20. Hy het 31 paaltjies geneem in sy laaste 30 T20-wedstryde. Mumbai is verheug om Maharaj te verwelkom, want sy ervaring maak hom presies die soort speler waarop die span floreer. Hulle is tans negende op die punteleer.
Nog krieketnuus: Sophie Devine, Suzie Bates en Lea Tahuhu sê hul deelname vir Nieu-Seeland aan die vroue se T20-Wêreldbekertoernooi is hul laaste doelwit. Al drie het aangekondig hulle gaan uittree na die toernooi in Engeland en Wallis wat in Junie begin. Afrigter Ben Sawyer sê die trio het voortreflike loopbane gehad en dit is ‘n seldsame en spesiale geleentheid vir hulle om hulle loopbane op dieselfde toernooi af te sluit. Kaptein Amelia Kerr se groep sluit tien spelers in wat Suid-Afrika in die eindstryd van 2024 se toernooi geklop het.
# Gholf: Talle LIV-gholfspelers het blykbaar na die PGA-toer uitgereik om hul moontlike terugkeer te bespreek. Dit volg op berigte dat die Saoedi-Arabiese Openbare Beleggingsfonds LIV na hierdie seisoen nie meer gaan befonds nie. Die major-wenners Jon Rahm van Spanje, die Amerikaners Bryson DeChambeau en Phil Mickelson, en die Australiër Cameron Smith is onder die spelers wat aan LIV deelneem. Volgens Golf Digest sal daar ‘n manier wees om terug te keer, maar voorwaardes sal waarskynlik aansienlik strenger wees as dié wat aan die Amerikaner Brooks Koepka gestel is.
# En sokker: Afganistan se vrouespan word toegelaat om terug te keer na internasionale deelname nadat hulle vyf jaar laas amptelik gespeel het. Beperkings is op vroueregte ingestel nadat die Taliban in 2021 weer die bewind oorgeneem het, insluitend ‘n verbod op sport. Dit het baie vroue gedwing om die land te verlaat. Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, het Afganistan amptelik erken ingevolge ‘n wysiging wat die registrasie van ‘n verteenwoordigende span onder uitsonderlike omstandighede toelaat, indien dit nie deur sy lidvereniging erken word nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….