Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: ‘n Opdraande stryd lê vir die Leeus voor in hul laaste twee Verenigde Rugbykampioenskaps-groepswedstryde nadat hulle hul ses vorige wedstryde gewen het. Die Johannesburgse span is tans derde op die punteleer, maar speel hul volgende wedstryde in Ierland teen die verdedigende kampioen, Leinster, en Munster. Die Leeus kan in die top-vier eindig, maar kan ook kwalifisering vir die kwarteindronde misloop as uitslae nie in hulle guns is nie. Afrigter Ivan van Rooyen sê hulle fokus tans net op Leinster en sal daarna begin beplan vir Munster.
Nog rugbynuus: Die Springbok-vroue se afrigter, Swys de Bruin, het die ervare Sizophila Solontsi en Nomawethu Mabenge genooi om volgende maand by ‘n groep van 36 spelers aan te sluit vir ‘n oefenkamp in Stellenbosch. Lerato Makua is ook genooi. Solontsi het die vorige kamp weens ‘n kopbesering misgeloop, terwyl Mabenge rehabilitasie vir ‘n kniebesering ondergaan het. De Bruin sê die drie spelers gee die groep bykomende intensiteit. Die oefenkamp is ter voorbereiding vir volgende maand se Rugby Afrika-vrouebekertoernooi in Kenia.
# Sokker: Mamelodi Sundowns se afrigter, Miguel Cardoso, is bekommerd sy span se besige skedule kan daartoe lei dat sleutelspelers van Bafana Bafana beserings kan opdoen voor die Wêreldbekertoernooi. Hy het voorheen die Premierliga gevra om plaaslike wedstryde uit te stel sodat Sundowns meer tyd kan kry om voor te berei vir volgende maand se Afrika-Kampioeneliga se eindstryde teen Royal Armed Forces van Marokko. Die span speel vier PSL-wedstryde voor hierdie kragmetings. Elf van Sundowns se spelers word as moontlike keuses vir die Wêreldbekergroep beskou.
# Atletiek: Suid-Afrika het die mans en vroue se 4-maal-100-meter aflosse gewen op die eerste Simbine Classic-byeenkoms in Tshwane gewen. Emmanuel Eseme van Kameroen het die Amerikaner, Pjai Austin, geklop toe hy die mans se 100 meter-item in 10,03-sekondes gewen het. Akani Simbine is halfpad deur die wedloop beseer en het laaste gekom. Die Suid-Afrikaner Prudence Sekgodiso het die vroue se eenduisend-500-meter gewen en Tshepo Tshite die mans se drie-duisend-meter. Simbine sê die geleentheid was ‘n sukses:
# En tennis: Die 24-jarige Amerikaner Hailey Baptiste het ʼn loopbaan-hoogtepunt op die Madridse Ope beleef toe sy die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, verslaan het om die eerste keer die halfeindronde te haal. Baptiste pak nou die negende-gekeurde Rus, Mirra Andreeva, wat die Kanadees Leylah Fernandez geklop het om haar eerste halfeindronde in die Spaanse hoofstad te bereik. In die mansafdeling het die Duitser, Alexander Zverev, met die Tsjeg Jakub Mensik afgereken om die kwarteindronde te haal terwyl Flavio Cobolli van Italië die Rus, Daniil Medvedev, uitgeskakel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….