Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met padwedlope: Verlede naweek se Twee Oseane-halfmarathon is in omstredenheid gedompel toe dit onthul is dat twee atlete wat onder die top-tien vroue geëindig het, eintlik mans is. Hulle is gediskwalifiseer en vir twee jaar van die wedloop verban, saam met die twee vroue wat hul inskrywings aan die bedrieërs verskaf het. Die voorsitter van die Twee Oseane, Chris Goldschmidt, sê die man wat in die sewende plek geëindig het, het onder die naam Larissa Parekh deelgeneem en die man wat tiende geëindig het, onder dié van Tegan Garvey.
# Rugby: Die Springbok-Sewes het vandag in Hongkong een wedstryd gewen en een verloor in die eerste van drie Wêreldkampioenskaps‑toernooie. Die Blitsbokke het Uruguay in hul openingswedstryd 12-7 geklop, gevolg deur ‘n nederlaag van 31-12 teen Spanje. Philip Snyman se manne pak Argentinië môreoggend in hul laaste Groep A-wedstryd. Die ander twee toernooie is in Mei in Valladolid, Spanje, en in Junie in Bordeaux, Frankryk, voor die grootkampioen gekroon word.
Nog rugbynuus: Ruan Vermaak sal op die bank begin in sy 50ste wedstryd vir die Bulle in die Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met Dragons in Wallis vanaand, met Cobus Wiese en Ruan Nortjé die twee slotte. Dit is afrigter Johan Ackermann se enigste verandering aan die voorspelers, terwyl Handré Pollard en Embrose Papier die skakelpaar bly. Canan Moodie skuif van buitesenter na vleuel in die afwesigheid van die beseerde Kurt‑Lee Arendse en Cheswill Jooste. Die Bulle is tans agtste op die punteleer.
# Krieket: Die onoorwonne Punjab Kings is nou boaan die punteleer van die Indiese Premierliga na hul oorwinning van sewe paaltjies oor Mumbai Indians. Quinton de Kock het Mumbai met ‘n onoorwonne 112 geneem tot 195 vir ses, maar Prabhsimran Singh het ʼn onoorwonne 80 vir Punjab bygedra en ‘n vennootskap van 139 met kaptein Shreyas Iyer gedeel. Iyer loof sy boulers wat Mumbai tot onder 200 beperk het:
# En tennis: Die prysgeld van die Franse Ope gaan byna tien-persent hoër wees as verlede jaar. Die organiseerders het ‘n verhoging van 9,5-persent aangekondig, wat ‘n totaal van 1,19-miljard-rand beloop. Die enkelspelkampioene sal elk meer as 49-miljoen-rand in die sak steek terwyl die verloorders in die eerste ronde 1,9-miljoen-rand sal ontvang. Die Spanjaard Carlos Alcaraz en die Amerikaner Coco Gauff is die verdedigende kampioene. Die kleibaan-Grand Slam-toernooi begin die 24ste van volgende maand op Roland Garros in Parys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….