Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die kolwer Rassie van der Dussen het sy Protea-loopbaan beëindig. Die 37-jarige het in 2018 vir Suid-Afrika begin speel en sedertdien altesaam vier-duisend-968 lopies in alle formate aangeteken. Van der Dussen sê hy tree met ‘n trotse hart en diepe dankbaarheid uit die internasionale spel, en beskryf dit as die grootste eer van sy lewe om vir sy land te speel. Krieket Suid-Afrika se direkteur van nasionale spanne, Enoch Nkwe, sê sy nalatenskap in die groen en goud strek verder as sy vertonings op die veld.
Nog krieketnuus: Engeland se Krieketreguleerder het waarskuwings-kennisgewings uitgereik aan witbalkaptein Harry Brook en die veelsydige Jacob Bethell omdat hulle spelers se gedragskode oortree het. Brook het verlede jaar tydens die eendagreeks teen Nieu-Seeland ‘n onderonsie met ʼn nagklub-uitsmyter in Wellington gehad. Die 26-jarige het aanvanklik volgehou hy was alleen, maar later erken Bethell en die snelbouler Josh Tongue was ook by hom. Daar is nie verder teen Tongue opgetree nie. Die kennisgewings sal die volgende drie jaar op Brook en Bethell se tugrekords bly.
# Sokker: Italiaanse media betreur wat hulle beskryf as die land se Wêreldbeker-vloek nadat die nasionale span nie kon kwalifiseer vir vanjaar se toernooi in Noord-Amerika nie. Die viermalige kampioen gaan ‘n derde agtereenvolgende Wêreldbeker misloop. Italië het Dinsdag met strafdoele teen Bosnië en Herzegovina verloor in die finale kwalfiserende wedstryd na hulle ook hulle vorige uitspeelwedstryde teen Swede en Noord-Masedonië verloor het. Die nederlaag het verontwaardiging in die sokkermal land veroorsaak, met politici wat eis dat die president van die beheerliggaam, Gabriele Gravina, moet bedank.
# Rugby: Senirusi Seruvakula sal Fidji afrig vir sy eerste drie Nasieskampioenskaps-wedstryde nadat hy in ‘n waarnemende hoedanigheid aangestel is na Mick Byrne se vertrek. Byrne het gister met onmiddellike ingang vertrek oor wat die hoof van Fidji se Rugbyunie, Koli Sewabu, beskryf as ‘n meningsverskil oor ‘n nuwe rigting vir die span voor volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië. Sewabu sê die raad het volle vertroue in Seruvakula vir die drie wedstryde teen Wallis, Engeland en Skotland in Europa in Julie.
# En gholf: Die Amerikaanse vereniging van beroepspelers, die PGA, sê Tiger Woods is nie beskikbaar om as kaptein van 2027 se Amerikaanse Ryderbeker-span oorweeg te word nie. Die 15-malige major-kampioen is Vrydag aangekeer nadat hy vermoedelik onder die invloed van drank bestuur en sy voertuig naby sy huis in Suid-Florida gerol het. Volgens berigte was hy voor die voorval die gunsteling om die span op Adare Manor in Ierland te lei. Die PGA van Amerika sê hy ondersteun Woods wat nou op sy gesondheid en welstand gaan fokus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….