Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met gholf: Die 36-jarige Rory McIlroy van Noord-Ierland sê hy is tevrede met sy herstel na sy rugbesering en hy sien uit om oor drie weke sy Meesters-titel as verdedigende kampioen te verdedig. Hy het by verlede jaar se Meesters sy vyfde major-titel gebuit en ‘n loopbaan-Grand Slam voltooi. Slegs Tiger Woods, Jack Nicklaus en Nick Faldo kon die Meesters in agtereenvolgende jare wen. McIlroy sê hy is opgewonde om na Augusta terug te keer:
# Sokker: Die EFF sê die beslissing om Senegal van sy 2026 Afrika-Nasiebeker-titel te ontneem, beteken die CAF-beheerliggaam het sy magte oorskry. CAF se Appèlraad het Senegal van hul titel ontneem omdat hulle die veld verlaat het en verklaar dat hulle die wedstryd verbeur het. Die toernooi-gashere Marokko word nou as die wenners van die eindstryd met 3 -0 beskou. Thembi Msane van die EFF sê die onregverdige besluit deur CAF is ‘n fundamentele wantoepassing van sy eie regulasies:
# Tennis: Die Miami Ope het ‘n vol program vandag ná reën gister die eerste ronde in Suid-Florida onderbreek het. In die mansafdeling sal Grigor Dimitrov, Matteo Berrettini, Marin Cilic, Hubert Hurkacz en Stefanos Tsitsipas almal vandag in aksie wees. In die vroue-loting, is Venus Williams tussen die hoofspelers, saam met Jennifer Brady wat teen die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen Sloane Stephens speel. Die wêreld-nommer-een Aryna Sabalenka en 13de gekeurde Jakub Mensik is die verdedigende kampioene.
# Rugby: Die SA-beker betree sy derde naweek en ná twee rondes van opwindende rugby, begin die punteleer interessant lyk. Die Griekwas, die Boland Kavaliers en die Pumas is op die maksimum van tien punte na twee bonuspunt-oorwinnings elk. Hulle word gevolg deur die SWD Arende met sewe punte, die Cheetahs met ses punte en die Griffons en Valke met vyf punte elk. In die eerste wedstryd môreaand pak die Cheetahs en die Pumas mekaar om 6-uur in Bloemfontein.
# En laastens, vyf lede van Iran se nasionale vroue-sokkerspan het saam met die groep na die land teruggekeer nadat hulle hul aansoeke om asiel in Australië laat vaar het. Sewe spelers het aanvanklik humanitêre visums aangevra om in Australië te kan bly. Hulle was bekommerd daar sou gevolge wees nadat hulle stilgebly het tydens Iran se volkslied voor hul openingswedstryd in die Asiatiese Beker. Menseregte-aktiviste sê die span se kaptein, Zahra Ghanbari, was een van die spelers wat moontlik onder druk geplaas is om van besluit te verander na dreigemente teen hul gesinne. Slegs twee ander spelers wat skuiling toegestaan is het agtergebly.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….