Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Sokker: Bafana Bafana se veldtog vir kontinentale glorie het gisteraand in die halfeindstryd van die Afrikabeker geëindig, toe hulle met strafdoele deur Nigerië geklop is. Die wedstryd het ná ekstra tyd een-elk geëindig, waarna die Nigeriese doelwagter, Stanley Nwabali, twee strafskoppe gekeer het en Nigerië deurgedring het na die eindstryd. Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê Bafana het Suid-Afrikaanse sokker weer in die kollig geplaas:
# Krieket: Twee voormalige kampioene, Australië en Pakistan, spook vandag sake uit vir ‘n plek in Sondag se eindstryd van die Onder-19 Wêreldbekertoernooi. Die wenner sal te staan kom teen die vyfmalige kampioen, Indië, wat plaaslike harte Dinsdag gebreek het toe hulle die jong Proteas geklop het in die eerste halfeindstryd in Benoni aan die Gautengse Oos-Rand. Australië het die toernooi reeds drie keer gewen en Pakistan een keer en het in twee eindstryde die aftog geblaas. Vandag se wedstryd asook die eindstryd word ook op Willowmoorepark gespeel.
# Rugby: Die onder 20-Wêreldrugby-kampioenskap word vanjaar weer in Junie en Julie in die Wes-Kaap aangebied. Die Junior Springbokke wat verlede jaar die brons medalje verower het, sal weer die toeskouers tuis wil beïndruk. Suid-Afrika is in Groep C ingedeel saam met Engeland, Argentinië en Fidji. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, sê hulle is vasberade om op verlede jaar se vertoning te verbeter en ‘n onvergeetlike wêreldklas-toernooi aan te bied, wat spelers, amptenare en rugby-ondersteuners terdeë sal geniet.
# Gholf: Die 15-malige major-kampioen, Tiger Woods, speel volgende week by The Genesis-uitnodigingstoernooi in Kalifornië in sy eerste toernooi van die seisoen. Die 48-jarige Woods het in April verlede jaar ‘n enkel-operasie ondergaan nadat hy in die derde ronde aan die Meesters onttrek het. Hy het eers in Desember weer aan die Hero World Challenge deelgeneem. Die Amerikaners, Justin Thomas en Will Zalatoris, en Adam Scott van Australië sal ook aan The Genesis deelneem. Woods se laaste oorwinning op die PGA-toer was in 2019 se Zozo-kampioenskap in Japan.
# En, laastens, Tennis: Die voormalige wêreld nommer een, Simona Halep, veg vir haar loopbaan in die Hof vir Arbitrasie vir Sport in Lausanne, Switserland. Die 32-jarige Roemeniër is in Oktober 2022 voorlopig geskors na ‘n positiewe opkikkertoets gedurende die Amerikaanse Ope. Die tweemalige Grand Slam-kampioen is verlede jaar van nog ‘n opkikker-oortreding aangekla. Halep ontken die aanklagte heftig en plaas die skuld vir haar positiewe toets op besmette gelisensieerde aanvullings. Die verhoor duur tot môre, maar dit is onduidelik wanneer die beslissing bekendgemaak sal word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….