Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die veelsydige Springbok-voorspeler Deon Fourie sien uit na sy terugkeer na die Stormers in môre se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Bulle in Pretoria. Fourie was vir twee jaar buite aksie weens beserings, waartydens hy ernstig oorweeg het om uit te tree. Die 39-jarige sê sy eerste doelwit is om die ontmoeting op ‘n volgepakte Loftus Versfeld sonder beserings te voltooi. Die Stormers sal op hom staatmaak om hulle te help om hul tradisionele vyand te klop nadat hulle drie agtereenvolgende wedstryde verloor het.
# Krieket: Die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, verwelkom die provinsiale regering se toewysing van 15-miljoen-rand vir voorbereidings vir volgende jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi vir mans. Die toernooi word in Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië gespeel. Mackenzie sê die toegekende fondse sal gedeel word tussen Boland Krieket en die Westelike Provinsie-krieketvereniging vir die opgradering en bou van infrastruktuur vir die toernooi:
Nog krieketnuus: Die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, is die 28ste gasheer vir Sunrisers Hyderabad in die openingswedstryd van vanjaar se Indiese Premiersliga. Die staat Karnataka het onlangs ingestem dat die M Chinnawamy-stadion IPL-wedstryde mag aanbied nadat 11 toeskouers in Junie verlede jaar dood is in ‘n stormloop tydens die viering van RCB se titel. ‘n Paneel kundiges gaan egter vandag ‘n inspeksie doen om te besluit of die stadion gereed is. Die organiseerders gaan die program vir die tweede deel van die toernooi later aankondig.
# Sokker: President Donald Trump van Amerika sê Iran moet vir hul eie lewens en veiligheid eerder nie aan die Wêreldbekertoernooi deelneem nie weens die konflik in die Midde-Ooste. Iran speel sy groepswedstryde teen België, Egipte en Nieu-Seeland in die toernooi wat op 11 Junie in Amerika, Kanada en Mexiko begin. Iran sê egter geen mens kan ’n land van die Wêreldbeker uitsluit nie, en voer aan Amerika kan nie die nodige sekerheidsmaatreëls vir deelnemende spanne bied nie.
# En atletiek: Die wêreld- en Olimpiese kampioen, Mondo Duplantis, het die paalspring-wêreldrekord die 15de keer verbeter, hierdie keer in die Mondo Classic in Swede. Die 26-jarige Amerikaans-gebore Sweed het met sy eerste poging 6,31-meter behaal en die rekord verbeter wat hy in September verlede jaar opgestel het op die Wêreld-atletiekbyeenkoms. Duplantis het elke keer dat hy die rekord verbeter het, dit met ‘n sentimeter opgeskuif. Hy sal volgende maand weer ‘n kans kry om die rekord te verbeter op die binnenshuise kampioenskap in Pole.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….