Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Franse flank Oscar Jegou is vir vier wedstryde geskors en sal Saterdag Les Bleus se laaste Sesnasies-wedstryd teen Engeland misloop. ’n Onafhanklike tugkomitee het bevind die 22-jarige speler het op roekelose wyse kontak gemaak met die Skotse plaasvervanger-haker Ewan Ashman se oë tydens verlede naweek se nederlaag van 50-40 in Edinburgh. Die komitee het Jegou vir ses wedstryde geskors, maar twee opgeskort danksy sy goeie tugrekord en die feit dat Ashman nie permanente beserings opgedoen het nie.
Ander rugbynuus: Die hulpafrigter van die Springbokke, Duane Vermeulen, sê Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-derbie tussen die Bulle en die Stormers op ‘n uitverkoopte Loftus Versfeld sal besonder mededingend wees na verlede week se eerste Bok-belyningskamp van die jaar. Hy glo die spelers wat die kamp bygewoon het, sal hulle beste lewer omdat daar altyd plek in die nasionale span beskikbaar is. Vermeulen verwag ‘n groot stryd. Hy sê die Bulle word as gunstelinge beskou omdat die Stormers die laaste tyd sukkel, maar hy voel enigiets kan gebeur.
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het bewerings van onregverdige behandeling verwerp nadat Suid-Afrika en die Wes-Indiese Eilande langer as ‘n week in Indië gestrand was na die T20-Wêreldbekertoernooi. Die IKR sê reisbesluite is geneem met veiligheid, uitvoerbaarheid en welsyn in gedagte. Lugdienste het vlugte gekanselleer of herlei weens die Midde-Oosterse oorlog, wat internasionale reisskedules in chaos gedompel het. Engeland se spelers het eers vertrek 36 uur na hul halfeindstryd, terwyl die Proteas en die Windies langer as ‘n week in Kolkata gebly het nadat hulle uitgeskakel is.
Iran se regering het intussen aangedui dat hulle moontlik aan die Wêreldbeker-sokkertoernooi kan onttrek weens die mede-gasheer, Amerika, en Israel se aanvalle op hom. Die toernooi vind in Amerika, Kanada en Mexiko plaas, maar die meeste van Iran se groepwedstryde word in Amerika gespeel. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vroeër die versekering gegee Iran se span sal welkom wees in sy land. Iran se minister van sport, Ahmad Donyamali, sê egter hulle kan nie deelneem in ‘n land wat hul opperleier, ajatolla Ali Khamenei, vermoor het nie.
# En tennis: Die verdedigende kampioen, Jack Draper, het die wêreld-nommer-drie, Novak Djokovic, in die ronde van 16 van die Indian Wells-meesterstoernooi in Amerika uitgeskakel. Die 14de-gekeurde Brit moes hard werk om die 38-jarige Serwiër in die beslissende stel se valbylpot te verslaan. Dit het verhoed dat Djokovic die eerste keer na die kwarteindronde deurdring sedert hy die toernooi in 2016 die vyfde en laaste keer gewen het. Draper pak nou die 11de-gekeurde Rus, Daniil Medvedev. Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner van Italië, speel in die kwarteindronde teen die Amerikaner Learner Tien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….