Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Twee Suid-Afrikaners, kaptein Aiden Markram en Lungi Ngidi, is ingesluit in die T20-Wêreldbeker-toernooispan. Markram het die Proteas na die halfeindronde gelei en 286 lopies aangeteken, insluitend drie vyftigtalle. Hy is ook as kaptein van die span aangewys. Ngidi het 12 paaltjies geneem. Vier van die kampioenspan, Indië, se spelers is gekies: Sanju Samson, Ishan Kishan, Hardik Pandya en Jasprit Bumrah. Twee Engelse spelers is ingesluit, terwyl Pakistan, die Wes-Indiese Eilande, Zimbabwe en Amerika elk een speler het.
Nog krieketnuus: Die Suid-Afrikaner Gary Kirsten is vir twee jaar aangestel as Sri Lanka se nuwe hoofafrigter. Die 58-jarige Kirsten vervang Sanath Jayasuriya, wat bedank het nadat die span uit die T20-Wêreldbekertoernooi geskakel is. Kirsten se kontrak is geldig tot April 2028. Hy het Indië na 2011 se Wêreldbeker-titel gelei en onder sy leierskap was Suid-Afrika in 2013 die topspan in alle formate. Sri Lanka Krieket sê Kirsten se basiese verantwoordelikheid is om die span voor te berei vir volgende jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi.
# Rugby: Die Franse flank Oscar Jegou word vandag dissiplinêr verhoor nadat hy na bewering sy vinger in Skotland se plaasvervanger-haker, Ewan Ashman, se oog gesteek het tydens Saterdag se Sesnasies-wedstryd in Edinburgh. Jegou is nie tydens die wedstryd gestraf nie. Die Skotte het 50-40 gewen en die hoop lewend gehou om die titel te buit. Die Springbok-slot Eben Etzebeth is vir 12 weke geskors na ’n soortgelyke voorval tydens die sege oor Wallis in November. Hy mag eers later hierdie maand weer speel.
Ander rugbynuus: Die seweswêreldreeks verskuif hierdie naweek na New York nadat Suid-Afrika Sondag die toernooi in Vancouver, Kanada, gewen het. Die Blitsbokke het met hulle derde titeloorwinning sover die seisoen vir Fidji ingehaal, wat in die halfeindronde uitgeskakel is. Slegs punteverskil maak dat die eiland-manne voor Suid-Afrika bo-aan die punteleer is. Suid-Afrika speel in die Amerikaanse stad hulle groepswedstryde teen Australië, Frankryk en Nieu-Seeland, terwyl Spanje, Fidji, Argentinië en Groot-Brittanje in Groep B meeding.
# En sokker: Die vooraanstaande Duitse span RB Leipzig besoek Suid-Afrika in Mei die eerste keer. Hulle beplan om op die 29ste ‘n vriendskaplike wedstryd teen Mamelodi Sundowns te speel in Pretoria. Leipzig se hoofbestuurder, Johann Plenge, beskryf Suid-Afrika as ‘n baie opwindende sokkermark en kultureel indrukwekkende bestemming vir die klub en Duitsland se Bundesliga. Hy sê Sundowns het die spel in Afrika gevorm en geniet beduidende internasionale erkenning. Die wedstryd sal op die Lucas Moripe-stadion gespeel word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….