Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-sewes se afrigter, Philip Snyman, sê hy is trots op die span se kliniese spel teen Spanje in die eindstryd van die Kanadese wêreldreekstoernooi in Vancouver. Suid-Afrika het ses drieë gedruk en Spanje 38-12 verpletter. Dit was die Blitsbokke se derde titel in vyf toernooie in die huidige seisoen. Snyman sê hy is tevrede met die span se volgehoue spelpeil en die groep se diepte:
Vyftienman-rugby: Engeland het tot sesde plek op die wêreldranglys teruggesak na sy heel eerste nederlaag teen Italië. Die Azzurri is egter steeds tiende na sy eerste oorwinning oor Engeland in 33 toetse. Suid-Afrika en Nieu-Seeland bly die wêreld se twee bestes, gevolg deur Ierland, wat die naweek met Wallis afgereken het in hul Sesnasies-wedstryd. Frankryk is vierde ondanks Saterdag se nederlaag teen Skotland, en Argentinië is nou vyfde. Skotland is sewende, Australië agtste en Fidji negende.
# Krieket: Oos-Londen in die Oos-Kaap behoort gereed te wees om volgende jaar eendag-Wêreldbekerwedstryde aan te bied, maar Kimberley in die Noord-Kaap is nog nie op standaard nie. Albei unies is tans onder administrasie. Grens se administrateur, Greg Fredericks, sê Desember se eendagwedstryd tussen die Proteas en Bangladesj behoort ’n goeie aanduiding te gee oor Buffalo-park se gereedheid. Die Noord-Kaap se administrateur, Jesse Chellan, moet nog met die provinsiale regering beraadslaag oor die standaard van die Kimberley-ovaal. Suid-Afrika is mede-aanbieder saam met Namibië en Zimbabwe.
Intussen vertrek die Proteas môre uit Kolkata nadat hulle na die T20-Wêreldbekertoernooi in Indië gestrand was weens die konflik in die Midde-Ooste. Die spelers wat van Sondag aan ’n T20-reeks van vyf wedstryde in Nieu-Seeland deelneem, sal regstreeks van Kolkata na Mount Maunganui reis terwyl die res terugkeer huis toe. Die jonger broer van die veelsydige Protea-speler Corbin Bosch, Eathan, sal intussen weens ’n besering nie geleentheid kry om sy eerste wedstryd vir Suid-Afrika te speel nie. Keshav Maharaj sal die span aanvoer.
# Iran se sokker-afrigter, Graham Arnold, wil intussen hê hul Wêreldbeker-kwalifiseerder in Mexiko later hierdie maand moet uitgestel word weens reisontwrigtings wat deur die konflik in die Midde-Ooste veroorsaak word. Sy span speel die 31ste teen Bolivia of Suriname in Monterrey. Arnold is bekommerd dat plaaslike spelers nie betyds sal kan reis nie. Hy sê om slegs oorsese spelers te gebruik, sal sy span verswak en hul kanse belemmer om die eerste keer sedert 1986 te kwalifiseer. Hy beskryf die wedstyd as hul belangrikste in 40 jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….