Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met motorsport: Die organiseerders van die seisoen se eerste Formule Een-Grand Prix verwag geen ontwrigting van die komende naweek se wedren in Melbourne, Australië, nie, ondanks die vervoerchaos wat deur die Midde-Oosterse konflik veroorsaak is. Duisende vlugte is gekanselleer sedert Israel en Amerika Iran Saterdag aangeval het. Australië se F1-hoof, Travis Auld, sê baie renjaers, ingenieurs, spanhoofde en ander spanlede se reisplanne is ontwrig, maar hulle kon vlugte herskommel en hy glo almal sal betyds opdaag.
Nog motorsport: Suid-Afrika se MotoGP-ster, Brad Binder, is taamlik tevrede met die begin van die seisoen. Die Red Bull KTM-renjaer was Saterdag sesde in die snelwedren van die Thaise Grand Prix en gister sewende in die hoofwedren. Marco Bezzecchi van Aprilia het die wedren gewen, terwyl die wêreldkampioen, Marc Marquez van Ducati, vyf rondes voor die einde weens ’n beskadigde wiel moes onttrek. Binder sê hy kon beter gevaar het:
# Krieket: Die halfeindstryde van die T20-Wêreldbekertoernooi is nou bevestig. Die naaswenner van 2024, Suid-Afrika, kom Woensdag in Kolkata, Indië, teen Nieu-Seeland te staan in die eerste halfeindstryd. Die Proteas is die enigste onoorwonne span in die toernooi. Die verdedigende kampioen en mede-gasheerland, Indië, pak Engeland Donderdag in die tweede halfeindstryd in Mumbai. Die twee lande het ook in die vorige twee toernooie in die halfeindrondes teen mekaar gespeel. Die eindstryd word Sondag op die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad beslis.
Ander krieketnuus: Die Australiese vroue-kaptein, Alyssa Healey, sê haar 158 in haar laaste eendagwedstryd was ‘n baie spesiale manier om haar loopbaan te beëindig. Die 35-jarige tree uit all formate na die eenmalige toets teen Indië wat Vrydag in Perth begin. Australië het die eendagreeks 3-0 beklink met ‘n oorwinning van 185 lopies in die laaste kragmeting in Hobart. Healey se 158 het van slegs 98 balle gekom en Beth Mooney het ‘n onoorwonne 106 bygedra. Australië het op ‘n reuse-409 vir sewe geëindig en Indië daarna vir 224 uitgeboul.
# En sokker: FIFA se president, Gianni Infantino, sê spelers wat hul monde bedek tydens onderonsies op die veld moet afgestuur word. Dit volg nadat Real Madrid se voorspeler, Vinícius Júnior, vir Gianluca Prestianni van Benfica beskuldig het van rassistiese aanmerkings in hul Kampioeneliga-uitspeelwedstryd. Prestianni het sy mond bedek tydens die beweerde voorval, wat deur UEFA ondersoek word. Infantino het aan Sky News gesê hulle is ernstig oor die bekamping van rassisme:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….