Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met sokker: Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê die kennisgewing wat die Nigeriese Hoëkommissariaat in Pretoria uitgereik het, is betreurenswaardig. Die kommissariaat het gewaarsku teen wat hy beskryf as bedekte dreigemente teen Nigeriërs wat in Suid-Afrika woon. Dit is in aanloop tot dié twee nasies se halfeindwedstryd vandag in die Afrikabekertoernooi. Die kommissariaat maan sy burgers om nie uitlokkend fees te vier indien die Super Eagles wen nie. Die departement se woordvoerder, Clayson Monyela, sê die kennisgewing veroorsaak ontsteltenis en onnodige spanning:
# Vervolgens, krieket: Nieu-Seeland het Suid-Afrika met 281 lopies verslaan in die eerste toets op die Bay Oval in Mount Maunganui en loop een-nul voor in die reeks van twee toetse. Die Proteas is ‘n onwaarskynlike teiken van 529 gestel nadat die tuisspan op hul oornagtelling van 179 vir vier verklaar het. ‘n Vennootskap van 105-lopies om die vyfde paaltjie tussen David Bedingham en Keegan Petersen was nie genoeg nie en Suid-Afrika is in 80 bouleurte uitgehaal vir 247. Die tweede en laaste toets begin Dinsdag in Hamilton.
Ander krieketnuus: Die verdedigende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, het Durban’s Super Giants op Nuweland met 51 lopies verslaan om hulle tweede agtereenvolgende SA20-eindronde te haal. Die Sunrisers het 157 vir agt aangeteken met Dawid Malan wat 63 bygedra het. In antwoord daarop het Marco Jansen en Ottniel Baartman elk vier paaltjies laat kantel en die Super Giants was op net 106 almal uit met nog drie balle oor. Sunrisers se afrigter, Adrian Birrell, sê die span was die hele toernooi lank indrukwekkend:
# Ons maak ‘n draai by rugby: Die president van SA Rugby, Mark Alexander, sê die samestelling van die Springbokke se nuwe afrigtingspan is gemik op die uiteindelike doelwit van ‘n driekuns van agtereenvolgende Wêreldbeker-titels op die volgende toernooi in Australië. Die unie het bevestig Rassie Erasmus keer terug as hoofafrigter tot 2027 en gee sy pos as direkteur van rugby op, wat nie weer gevul word nie. Erasmus het groot name bygevoeg, insluitend die voormalige All Blacks-losskakel Tony Brown, die voormalige Ierse haker Jerry Flannery, die uitgetrede Bok-agsteman Duane Vermeulen en die uitgetrede skeidsregter, Jaco Peyper.
En, ons sluit af met nog rugby: Frankryk se slot, Paul Willemse, is vir vier weke geskors ná sy rooikaart teen Ierland in Vrydag se Sesnasies-wedstryd. Hy het in die agste minuut ‘n geelkaart gekry vir ʼn hoogvat op Andrew Porter. Dis gevolg deur ʼn tweede geelkaart na nog ʼn hoogvat, die keer op Caelan Doris. Dit is egter na ʼn rooikaart verander nadat ʼn paneel die 31-jarige speler skuldig bevind het aan twee gevalle van vuilspel. Die skorsing beteken Willemse gaan die wedstryde teen Skotland en Italië misloop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….