Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met gholfnuus: Die Stellenbosse Gholfklub in die Wes-Kaap gaan tot Sondag volgepak wees nadat alle kaartjies vir die Suid-Afrikaanse Ope uitverkoop is. Die toernooi, wat vanoggend begin het, word gesamentlik onderskryf deur die Sonskyntoer en die DP World-toer en bied vrystellings vir vanjaar se Meesterstoernooi en Britse Ope. Die vyfmalige kampioen, Ernie Els, neem deel saam met sy Suid-Afrikaanse landgenote soos Charl Schwarzel, die verdedigende kampioen, Dylan Naidoo, en die voormalige kampioene Dean Burmester, Daniel van Tonder en Branden Grace.
# Krieket Suid-Afrika se direkteur van nasionale spanne en hoëprestasie, Enoch Nkwe, sê Protea-afrigter Shukri Conrad kry goeie uitslae omdat die spelers weet wat hy verwag. Conrad het verlede jaar beheer oor al drie formate oorgeneem. Nkwe sê hy het daarin geslaag om die T20-span in ‘n meedoënlose eenheid te omskep wat die gasheerland, Indië, in die T20-Wêreldbekertoernooi verslaan het voor meer as 90-duisend geesdriftige tuisondersteuners in Ahmedabad. Suid-Afrika speel vandag in dieselfde stadion teen die Wes-Indiese Eilande in die Super Agt-fase.
Engeland se kaptein, Harry Brook, is intussen nie seker of hy in die nommer-drie kolfposisie sal bly nie, al het hy sy span gered in Dinsdag se Super-agt-wedstryd teen Pakistan. Hy het opgestap nadat Phil Salt in die eerste boulbeurt uitgehaal is, en Engeland met ‘n honderdtal na die halfeindronde gelei. Brook kolf gewoonlik vyfde. Hy sê dit was hoofafrigter Brendon McCullum se idee om hom vroeër in te stuur en hy sal besluit waar hy die res van die toernooi sal kolf.
# Rugby: Die afrigter van die Junior Springbokke, Kevin Foote, het ‘n sterk groep aangewys vir môre se tweede en laaste wedstryd teen Georgië in Tbilisi. Suid-Afrika het Sondag se eerste wedstryd 35-0 gewen. Die voorry-staatmakers Oliver Reid en Siphosethu Mnebelele is teruggeroep na die opdrafspan, met Zekhethelo Siyaya ingesluit as heelagter in die plek van Dylan Miller, wat op die bank is. Foote sê Reid en Mnebelele se ondervinding gee die span bykomende selfbeheersing en tegniese krag.
# En tennis: Die Suid-Afrikaans-gebore administrateur Craig Tiley is onderweg na Amerika nadat hy bedank het as uitvoerende hoof van Tennis Australië. Hy was die afgelope 20-jaar hoof van die Australiese Ope. Tiley gaan die nuwe uitvoerende hoof van die Amerikaanse Tennisvereniging word, maar sal nog in Australië aanbly om ‘n gladde oorgang te verseker. Die direkteur van Tennis Australië, Chris Harrop, sê die sport het van krag tot krag gegaan onder Tiley se leierskap. Daar is reeds begin na die soektog vir ‘n nuwe uitvoerende hoof.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….