Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die kragmeting met die Barbarians in Gqeberha in Junie waarmee hulle hul toetsseisoen afskop, is die ideale geleentheid om spelers wedstryd-gereed te kry. Die wedstryd vind plaas twee weke voor die Bokke se eerste Nasieskampioenskap-kragmeting met Engeland op Ellispark in Johannesburg. Erasmus sê sy span sal fokus op strukture en wat hulle op die veld wil bereik. Hy sê hoe gouer hulle ‘n toets-ingesteldheid ontwikkel, hoe beter.
# Gholf: Die tweede oudste ope-kompetisie, die Suid-Afrikaanse Ope, vind hierdie week die 115de keer plaas. Dit word op Stellenbosch se gholfklub gespeel. Die vyfmalige major-kampioen, Ernie Els, sluit by ander plaaslike spelers aan soos Charl Schwartzel, die verdedigende kampioen, Dylan Naidoo, en voormalige kampioene Dean Burmester, Daniel van Tonder en Branden Grace. Die Amerikaner Patrick Reed sal probeer om die derde keer te wen. Die wenner van vanjaar se toernooi kry vrystelling vir die Meesterstoernooi.
# Krieket: Engeland het na die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi deurgedring toe hulle Pakistan in Pallekele met twee paaltjies geklop het in hulle Super-agt-wedstryd. Pakistan het 164 vir nege aangeteken nadat Liam Dawson drie paaltjies geneem het. Engeland se kaptein, Henry Brook, het Engeland daarna gered met ‘n honderdtal van 51 balle na ‘n vroeë ineenstorting, en hulle het die teiken bereik met vyf balle oor. Pakistan moet Saterdag die medegasheer, Sri Lanka, klop en hoop ander uitslae is in sy guns om die halfeindronde te haal.
Nieu-Seeland se kaptein, Mitchell Santner, sê intussen die sleutel tot sukses in vandag se Super-agt-kragmeting met Sri Lanka is om by Colombo se stadiger kolfblad aan te pas. Die Swartpette benodig dringend ‘n oorwinning nadat hul eerste Super-agt-wedstryd teen Pakistan op dieselfde stadion uitgereën het. Santner sê hulle het tydens die groepfase op kolwervriendelike blaaie in Indië gespeel, maar hy glo hulle het nou die draai-moontlikhede gedek. Sri Lanka is ook onder druk nadat hy sy eerste Super-agt-botsing teen Engeland verloor het.
# En motorsport: Christian Horner sê hy glo nie die renjaer Max Verstappen of sy pa was enigsins die rede vir sy vertrek uit Red Bull verlede jaar nie. Die 52-jarige Horner, wat sedert 2005 deel was van die Formule Een-span, is in Julie as uitvoerende en spanhoof afgedank en deur Laurent Mekies vervang. Horner sê in die jongste Netflix-reeks, Formula 1: Drive to Survive, hy ondervind ‘n ware gevoel van verlies en pyn omdat sy vertrek so skielik was.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….