Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerstens na krieket: Australië gaan die eerste keer weer ‘n toets op Nuweland in Kaapstad speel sedert die berugte skuurpapier-voorval in 2017. Die destydse kaptein, Steve Smith, onderkaptein David Warner en die bouler Cameron Bancroft is gestraf nadat televisiekameras opgetel het dat Bancroft skuurpapier gebruik om die bal growwer te maak tydens die derde toets teen Suid-Afrika. Die Proteas het die wedstryd met 322 lopies gewen en die reeks 3 -1 beklink. Oktober se eerste twee toetse word in Durban en Gqeberha beslis en die laaste een op Nuweland.
# Rugby: Ierland se hoofafrigter, Andy Farrell, beskryf die potensiaal in sy groep as reusagtig nadat hulle Engeland Saterdag verniel het in ‘n Sesnasies-wedstryd op Twickenham. Ierland het 42-21 gewen nadat min ondersteuners of kenners hulle ‘n kans gegee het. Dit plaas hulle behoorlik terug in die wedloop om die Sesnasies-titel, nadat hulle in November teen Nieu-Seeland en Suid-Afrika verloor het, en vroeg die maand ook teen Frankryk. Farrell is ook tevrede met die vertoning van sy meer ervare spelers na vrae oor hulle spelpeil.
Nog rugbynuus: Die verdedigende kampioen, die Universiteit van Kaapstad se Ikeys, is terug op die wenpad na verlede week se nederlaag nadat hulle die Sentrale Universiteit van Tegnologie met 83-34 verpletter het in die Varsitybeker se tweede ronde. Die Noordwes-universiteit se Arende spog met twee seges nadat hulle die nuwe Emeris-span met 63-15 afgeransel het. Die Universiteit van Pretoria se Tuks het agtereenvolgende oorwinnings behaal en die Vrystaatse Shimlas met 38-22 verslaan. Die Maties van Stellenbosch is ook weer op die wenpad met ‘n oorwinning van 39-19 oor die Universiteit van Johannesburg.
# Sokker: UEFA het Benfica se vleuel, Gianluca Prestianni, vir een wedstryd geskors ná bewerings dat hy rassistiese opmerkings teenoor Real Madrid-voorspeler, Vinícius Júnior, gemaak het. Die voorval het tydens verlede week se eerste ronde van die Kampioeneliga-kragmeting plaasgevind, waar Madrid 1-0 gewen het. UEFA het hom voorlopig geskors, hangende die uitslag van ʼn volledige ondersoek deur ʼn etiek- en tuginspekteur. Prestianni sal die tweede ronde van kragmeting in Madrid misloop. Benfica sê hulle gaan teen Prestianni se tydelike skorsing appelleer.
# En, Paralimpiese Spele: Die Internasionale Paralimpiese Komitee vra Oekraïnse atlete om nie die Winterspele se openingseremonie te boikot nie. Dit volg nadat die komitee sekere Russiese en Belarussiese atlete toegelaat het om onder hulle vlae en volksliedere aan die Spele deel te neem. Die Tsjeggiese Paralimpiese Komitee gaan ook die seremonie bokoit uit eendragtigheid met Oekraïne. Die internasionale komitee se president, Andrew Parsons, is bekommerd dat sulke situasies soms verpolitiseer word. Die Milano Cortina-Winterspele vind van 6 tot 15 Maart in Italië plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….