Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: ‘n Plek onder die top-agt in die Verenigde Rugbykampioenskap is op die spel wanneer die Leeus more in Johannesburg teen die Haaie speel. Die Haaie is tans negende op die punteleer en die Leeus tiende. ‘n Oorwinning vir die besoekers sal sal hulle die Suid-Afrikaanse skild laat verower met een plaaslike derbie wat oorbly, terwyl die Leeus die ses punte tussen die spanne sal verminder en in aanmerking sal bly as hulle wen. Die Stormers, wat derde op die punteleer is en die Bulle, wat sewende is, speel nie hierdie naweek nie.
# Krieket: Die veelsydige Protea-speler, Marizanne Kapp, gaan die eendagreeks teen Pakistan misloop weens siekte. Die 36-jarige Kapp het Maandag ongemak ondervind kort nadat sy geboul het in die derde en laaste T20 teen Pakistan in Benoni. Krieket Suid-Afrika sê die mediese span het ná ondersoeke besluit dat sy as voorsorgmaatreël moet rus. Kapp word vervang deur die 18-jarige nuweling, Fay Cowling. Die reeks van drie eendagwedstryde begin Sondag in Bloemfontein.
Nog krieketnuus: Die groepfase van die T20-Wêreldbekertoernooi eindig vandag. 2021 se kampioen, Australië, is reeds uitgeskakel nadat hy twee van sy eerste drie wedstryde verloor het, maar hoop om op ‘n hoogtepunt af te sluit met ‘n oorwinning oor Oman in Pallekele. Die Super Agt-fase begin môre in Colombo wanneer Pakistan en Nieu-Seeland mekaar die stryd aansê. Suid-Afrika speel Sondag in Ahmedabad teen Indië. Die voorste twee spanne in elke groep kwalifiseer vir die halfeindronde. Die eindstryd word die agtste van volgende maand gespeel.
# Motorsport: Formule Een se president, Stefano Domenicali, sê hy verstaan nie die paniek oor die nuwe regulasies vir hierdie seisoen nie. Die grootste reël-verandering in F1-geskiedenis raak voertuie, enjins en bande, terwyl koolstof-neutrale, volhoubare brandstowwe bekendgestel word. Die viermalige wêreldkampioen, Max Verstappen, beskryf die nuwe motors as Formule E op steroïde. Domenicali sê mense moet kalm bly omdat dit net die begin van ‘n nuwe reis is. Hy sê veranderings sal aangebring word indien nodig.
# En laastens, Paralimpiese Spele: Oekraïne se span gaan volgende maand se openingseremonie van die Paralimpiese Winterspele in Italië boikot. Dit volg nadat die Internasionale Paralimpiese Komitee besluit het om ses Russiese en vier Belarussiese atlete toe te laat om onder hulle landsvlae deel te neem. Oekraïnse beamptes het reeds aangedui dat hulle die hele kompetisie gaan boikot. Dié land se Nasionale Paralimpiese Komitee beskryf die komitee se besluit as skandelik en sê dis heeltemal strydig met die Spele se beginsels.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….